‘n Russiese vragskip genaamd Lady R was in die Simonstad-hawe in Kaapstad vasgemeer voordat dit vroeg Vrydag sonder taal of tyding vertrek het.
Teen Vrydagmiddag het die skip van mariene moniteringsdienste se radar af verdwyn, ondanks die feit dat dit vir drie agtereenvolgende nagte deur gewapende wagte bewaak is, het Daily Maverick berig.
Verskeie inwoners in die omgewing het beweer hulle het Vrydag in die vroeë oggendure gesien hoe die skip die hawe verlaat.
Om die misterie nog verder te verdiep, het die Russiese vaartuig ‘n ongeïdentifiseerde vrag aan die gewapende wagte toevertrou terwyl dit in die hawe geanker was.
Lady R is Dinsdagaand tussen 8nm en 10nm op die dokke se skandeerstelsel bespeur – ten spyte daarvan dat die vaartuig se outomatiese identifikasiestelsel van lyn af was.
Die stelsel verskaf inligting, insluitende die skip se posisie en identifikasie, aan kusowerhede.
Die Departement van Verdediging en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het nie ‘n rede verskaf waarom die Russiese skip in die land was, of wat in die nagdonker afgelaai is nie.
Kobus Marais, DA-verdedigingswoordvoerder, het gesê die regering se stilswye is “onaanvaarbaar”.
Inwoners beweer dat hulle Donderdag omstreeks middernag gesien het hoe ses houers met hyskrane vanaf die skip na die dokke toe verskuif is.
“Vragmotors was gedurende die dag by ‘n plaaslike sportterrein geparkeer, en was swaar bewapen en bewaak,” het Marais gesê.
David S Feldmann, woordvoerder van die Amerikaanse Ambassade in Pretoria, het gesê die regering is van die skip se aankoms meegedeel.
“Ons het die Suid-Afrikaanse regering voorheen ingelig dat Lady R beplan om in Suid-Afrika te stop,” het hy Donderdag aan Daily Maverick gesê.
“Ons het aangedui dat die vaartuig onder Amerikaanse wetgewing geoorloof is, omdat die skip deel is van Rusland se militêre uitvoer-invoerbesigheid, en het gewaarsku dat entiteite wat die vaartuig ondersteun, Amerikaanse sanksies mag verbreek.”
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Russiese skip Lady R in Simonstad
Beeldbron: SAPeople