Dit lyk so, dit ruik so… dit moet mos Kersfees wees!

Met liefde uit Limpopo: ‘n Huis vol opgewonde kinders is net wat Thabiso Sekhula benodig om die betowering van Kersfees te herleef

Dis Kerstyd en jy sal sukkel om vroeë feesvieringe in die provinsie mis te kyk. Skole is gesluit en taxi’s is volgepak met klein kindertjies wat reis na hul ouers in die stad, of terugkeer na hul grootouers se huise toe. Die feesgevoel is tasbaar.

Teen betaaldag in November het my suster reeds haar deel van die Kersfees-kruideniersgeld aangestuur – waar ek vandaan kom is dit ‘n stille aanduiding dat “ek my kinders stuur”.

En soos die amateur wat ek is, is ek weer eens hierdie feestyd tuis met al die kinders.

Ek moet inderdaad ‘n liefhebber van kinders wees, want my niggie stuur ook haar tweetjies. Tussen my susters en ek het ons agt van ons eie kroos, en aangesien ons hierdie vakansie reeds 12+ koppe by die huis tel vir ontbyt, het ek vir my ander niggie gesê om sommer haar twee ook te bring.

Ek het ‘n swak vir familie en vir foto’s. Vandat die kinders klein was het ek dieselfde kiekie jaarliks geskiet, met die kinders op die trappe voor my ma se huis.

Dit sal die eerste Kersfees in vier jaar wees wat ons hierdie prentjie herskep. Ons het soveel verloor, en met Covid 19 was Kerstyd eenvoudig nie dieselfde nie. Wat is ‘n beter kitskuur vir ‘n swaar hart as die teenwoordigheid van kinders – of 15, in my geval?

Ek spandeer summier elke sent wat ek het op hierdie vier weke van samesyn, want dit bring vir ons almal soveel geluk. Vul ons bekers met als wat goed is vir die jaar voor.

Ek was die jongste van ons gesin se kinders, met ‘n 10-jaar gaping tussen my en die oudste sibbe. Teen die tyd wat ek hoërskool toe is, was hulle almal op pad universiteit toe. Kersvakansies was altyd die tyd wat ek saam met hulle almal, plus my neefs en niggies en die buurkinders, op straat kon spandeer.

Ons het lang dae langs die rivier spandeer en huise uitgeruil met ons niggies en neefs. Ons getof in Kersklere en Kersoggend aan die gang gedans in helder sonskyn… alhoewel ek vermoed dit was ons ouers se taktiek om ons vroeg uit die vere te kry en in die werk te steek.

My ryk oom het Oujaarsaand ‘n koei geslag en busse gestuur om ons familielede van regoor die provinsie te gaan oppik vir die okkasie.

Ek het selfs een keer verlief geraak op ‘n seun wat vir ‘n week lank by ons buurman se huis gekuier het om ‘n troue by te woon. Ek was nie genooi na deel twee van die geleentheid, ver weg in Mafikeng nie, so toe skryf ek vir hom ‘n brief en stuur dit saam met my ma. Sy was deel was van die bruidspan wat makoti na die skoonouers toe geneem het.

Dit was wonderlik – herinneringe vol geluk in ‘n ommesientjie.

Soos ek ouer word is ek steeds bewus van die voorreg om hier te wees om die betowering van Kersfees, hierdie keer saam met my eie kinders en familie, weer te ervaar. Kom ons vier ons geliefdes hierdie jaar, terwyl ons nuwe tradisies uittoets en dié behou wat ons die gelukkigste maak.

Op die foto hierbo: Die laaste kiekie geneem van die kinders op die trappe voor die huis.