Dis hoe Mashatile sy hand oorspeel het

Zukile Majova

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, se strategie om hom by albei faksies in die regerende party te skaar, gaan hom nou ‘n setel in die invloedryke ANC-topses kos.

As tesourier-generaal, waarnemende sekretaris-generaal en waarnemende adjunk-sekretaris, het die man al die troefkaarte in sy hand gehad om die pos van ANC adjunkpresident te beklink.

Hierdie magtige posisie sou hom in die voorste gestoeltes plaas om die toppos te verower tydens die volgende verkiesingskonferensie in 2027.

Maar dit het als lelik skeefgeloop vir die leier van die sogenaamde Alex Mafia.

Sedert die 2017-konferensie in Nasrec het Mashatile voorgee dat hy Ramaphosa se regterhand is by Luthuli-huis, wat gelei het tot Ramaphosa se steun vir Mashatile om as sekretaris op te tree toe Ace Magashule geskors is en adjunksekretaris Jessie Duarte dood is.

Dit was ten spyte van sy treurige werkverrigting as tesourier, toe die party nie genoeg fondse kon insamel om sy basiese verpligtinge na te kom nie, en ANC-personeel maande lank moes werk sonder vergoeding.

Toe Mashatile en Ramaphosa nog bondgenote was, het die president die tesourierskantoor se patetiese prestasie verbloem deur die ANC-salarisrekening uit sy eie sak uit te betaal.

Mashatile se politieke skaakspel het duidelik geword toe hy ‘n nuwe faksie genaamd die Taliban in KwaZulu-Natal ondersteun het, wat hulself voorgedoen het as ondersteuners van oudpresident Jacob Zuma maar in werklikheid lojaal was aan Mashatile, wat destyds onoorwinlik gelyk het.

Daar gaan beswaarlik ‘n week verby sonder dat hierdie spul vir Jacob Zuma in Nkandla gaan kuier, en tog het hulle hom in die openbaar in die verleentheid gestel deur die verwerping van sy verkose presidensiële kandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma.

Die ANC KZN provinsiale uitvoerende komitee gaan nou die nasionale konferensie bywoon as onwrikbare ondersteuners van die Mashatile-lys, wat die voormalige Minister van Gesondheid, Zweli Mkhize – wat hoeveel skandes op sy kerfstok het – aanbeveel vir  die toppos, met Mashatile as adjunk.

Die laaste dolk wat Mashatile laas week in Ramaphosa se rug gesteek het was sy poging om die ANC se hele nasionale uitvoerende komitee sover te kry om ’n onwettige vergadering te hou met die enkele doelwit om Ramaphosa te dwing om as staatshoof en president van die ANC te bedank.

Die strategie is ontwerp om munt te slaan uit die verwarring wat gevolg het op die gebrekkige en onoortuigende verslag van die Parlement se Artikel 89-paneel oor toesmeerdery van die Phala Phala-plaasroof. Volgens die verslag het Ramaphosa moontlik sy ampseed en wette rondom geldwassery en belasting oortree.

Die persepsie dat Mashatile steeds lojaal aan Ramaphosa was, het veroorsaak dat hy ver voorgeloop het in die adjunkpresidentsresies, met 1,791 takke wat hom vir die pos benoem het vergeleke met Ronald Lamola se 427 en Oscar Mabuyane se 397.

Die Ramaphosa-faksie beplan nou om Senzo Mchunu, Minister van Water en Sanitasie, van die konferensievloer af as adjunkpresidentskandidaat te benoem.

Nadat hy onlangs sy tweede termyn as Oos-Kaapse premier beklink het, het Mabuyane ingestem om plek te maak vir ‘n nuwe kandidaat.

Met net ‘n week voor die 55ste konferensie, kan baie dinge nog verander namate stemwerwers hul lyste konsolideer en probeer om ‘n 50% geslagsgelykheidsteiken te behaal tydens vorming van die volledige NUK met 86 lede.

Op die foto hierbo: Paul Mashatile

Beeldbron: The Citizen