Masoka Dube
Jong Samantha Nwelana is net vier jaar oud, en het ‘n gratis operasie ontvang sodat ‘n gat in haar hart herstel kon word – en haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.
“Dit sal die eerste keer wees dat Samantha nie pyn het nie,” het haar ma, Nomfusi Nelwana, gesê vanuit hul huis in Mandelapark buite Mthatha in die Oos-Kaap.
“Ons gesin sien uit na ‘n wonderlike feesseisoen, wat gaan saamval met die viering van Samantha se suksesvolle hartoperasie.”
Nomfusi het gesê sy is verlig dat die operasie ‘n sukses was en dat haar kind vir die eerste keer Kersfees soos ander kinders sal kan geniet.
Samantha se harttoestand is in Junie 2021 ontdek en toe haar situasie versleg het die Pelo-stigting moes inspring om te help met befondsing.
Samantha, wat aan Kongenitale Hartsiekte (KHS) ly, het verlede Vrydag haar operasie in Busamed Modderfontein Privaat Hospitaal in Gauteng ondergaan.
KHS is ‘n toestand waarin kinders gebore word as daar fout is met hul hart.
Die ma het gesê Samantha het voorheen haar Kersvieringe in pyn deurgebring omdat sy altyd swak en moeg was.
“Vanjaar gaan anders wees, want die familie gaan by die huis bymekaarkom en Kersgeskenke met die dogtertjie deel sodat sy kan besef dat sy vir ons spesiaal is,” het Nomfusi gesê.
“Ek was altyd bekommerd, want ek het nie geweet wat van haar gaan word nie. Sy was baie siek. Dokters moes die eerste operasie kanselleer toe haar gesondheid verswak het. Nou met hierdie tweede rondte was my dogtertjie sterk en gesond.”
Nomfusi het dankbaarheid betoon aan almal wat dit vir haar kind moontlik gemaak het om die operasie te ondergaan.
“Samantha is by die huis en herstel goed. Sy gaan volgende jaar Graad 1 toe.”
Dudu Mvimbi Leshabane, woordvoerder van die Pelo-stigting, het gesê: “Samantha is een van die 13 kinders wie se operasies deur die stigting en sy vennote Busamed Privaat Hospitaal Groep gedoen is, waar die kinders geopereer word, en Wings and Wishes – ‘n NRO wat die kinders van hul huise af hospitaal toe en terug vervoer.”
Leshabane het gesê tans is daar ongeveer 500 kinders net in die Oos-Kaap wat op die waglys is vir ‘n KHS-hartoperasie.
Op die foto hierbo: Samantha Nwelana
Beeldbron: Verskaf