Niks meer preek, dobbel op treine geduld nie

Karabo Rammutla

In die verlede kon ‘n mens, nadat jy op ‘n trein geklim het, vrugte en groente koop en dobbel, en diegene wat hul siel wou voed, kon koers kry na die waens waar daar gepreek word.

Maar die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het ‘n stokkie voor dit als gesteek.

Die agentskap en die Departement van Vervoer het onlangs nuwe treine bekend gestel om die spoorstelsel te laat herleef, nadat dit byna ineengestort het as gevolg van vandalisme, brandstigting, en die diefstal van spoorlyne en kabels.

Prediking, dobbel en handeldryf in hierdie treine word nie meer toegelaat nie.

Om Prasa-personeel stief te behandel en in die gange te speel of dit te blokkeer, sal ook iets van die verlede wees.

Baie mense is briesend, terwyl godsdienstiges en predikers ook woedend is.

Terwyl sommige sê dat hulle tot God sal bid om die owerhede se harte te versag, het ander gesê dat hulle hul niks aan die nuwe reëls gaan steur nie.

Pastoor Malesela Ledwaba van Bus and Train Ministries het gesê Prasa het die pot mis gesit met hul prioriteite.

“Watter skade doen ons deur God se woord te versprei? In plaas daarvan om seker te maak dat treine betyds is en nie pendelaars verontrief wanneer hulle breek nie, teiken [Prasa] vir God. Ons bid dat hulle, soos Saul, hul Damaskus-oomblik sal beleef,” het hy gesê.

Pendel Bertha Mtsweni het gesê sy sal die regulasies tromp-op loop. “Ek sal nie die eerste een wees nie; daar was eens mense soos Sadrag, Mesag en Abednego. Ek sal die hardste sing, sonder enige vrees, want ek vertrou op die Here,” het sy gesê.

Prasa-woordvoerder Lillian Mofokeng het gesê die nuwe treine is anders as die oues.

“Mense kan deur al die waens sien, en vrylik rondbeweeg danksy die oop ontwerp van die nuwe treine,” het sy gesê.

Mofokeng het gesê [die reëls is] daargestel in die belang van pendelaarveiligheid, inligting, reisgemak, netheid, gerief en universele toeganklikheid.

“Prasa het ‘n veldtog van stapel gestuur om pendelaars oor die nuwe reëls in te lig. Hierdie aktiwiteite het oor die jare getoon dat dit baie pendelaars verontrief en vrye beweging binne die trein beperk,” het sy gesê.

Op die foto hierbo: Passasiers en Prasa-personeel sal vrylik op die nuwe treine kan rondbeweeg, maar geen prediking of verkope sal toegelaat word nie

Fotobron: Prasa