Buziwe Nocuze
Mlungisi Jim was werkloos en het op sy eie gewoon, toe die ma van sy twee kinders hul kroos by hom kom afgooi het.
Die 57-jarige enkelpa van Lower Crossroads in Kaapstad het besef hy sal maniere moet uitdink om geld te verdien sodat hy sy gesin kon voed.
Hy het bottels en blikkies in sy buurt begin versamel en dit aan ‘n herwinningsmaatskappy verkoop.
“Niemand gaan elke dag vir my kos skenk vir my 10- en sesjarige kinders nie. As hul pa is dit my verantwoordelikheid om vir hulle te sorg,” het Jim gesê.
“Om leë bottels in te samel en dit aan herwinningsmaatskappye te verkoop, is wat kos op die tafel sit vir my gesin, en ek skaam my glad nie daaroor nie. Selfs mense wat hier rondom my bly weet wat ek vir ‘n lewe doen.”
Jim word op ‘n daaglikse basis om 5vm wakker om sy kinders vir skool voor te berei en saam met hulle soontoe te stap. Dan begin sy soeke na gebruikte blikkies en bottels.
Na gelang van hoeveel bottels hy per week insamel, kan hy tot R1,000 maak – en dis vir ‘n totale versameling van 1,100kg.
Jim sê hy wil die ma van sy kinders vind; die laaste keer wat hy haar gesien het, was toe sy die kinders drie jaar gelede daar afgelaai het.
“Ek het haar probeer opspoor, maar sonder sukses. Dit blyk dat sy in die niet verdwyn het,” het hy gesê.
Hy vermoed dat die ma steeds die kinders se maatskaplike toelae ontvang. “Ek kan niks daaraan doen nie, want ek het nie hul geboortesertifikate by my nie. Hulle ma het dit saamgeneem. Ek kry nie ‘n maatskaplike toelae nie, en ek glo dit sal ‘n groot verskil maak.”
‘n Scrolla.Africa-joernalis het Sassa gekontak om te kyk of hulle vir Jim kan bystaan, en hul woordvoerder, Shivani Wahab, het as volg geantwoord: “Ons kan hom help om die maatskaplike toelae vir sy kinders te kry. Al wat ons van hom benodig is ‘n beëdigde verklaring van die SAPD wat sê dat die kinders by hom woon, en dat hy nie weet waar die ma is nie.”
Op die foto hierbo: Mlungisi Jim loop in die township rond en versamel leë bottels vir ‘n herwinningsmaatskappy.
Beeldkrediet: Buziwe Nocuze