Is die samba Brasilië se geheime wapen?

Dylan Bettencourt

Vir Brasilië is dans nie die gevolg van doele aanteken nie – dit is juis die rede waarom hulle punte behaal.

So lank gelede as 1982 het die linkeragter Junior ‘n doel teen Argentinië aangeteken en begin samba voor die brullende skare – van toe af was dit deel van die Brasiliaanse nasionale span se sokkertradisie.

Maar dit het ook ‘n mate van tweespalt by die ondersteuners veroorsaak. Sommige is mal daaroor, ander beskou dit as oneerbiedig.

Roy Keane, sokker fundi en voormalige kaptein van Manchester United, het Maandagaand sy misnoeë met die vieringe beklemtoon ná hul 4-1 sege oor Suid-Korea.

“Ek hou nie hiervan nie. Mense sê dit is hul kultuur, maar ek dink dis minagtend teenoor die opposisie. Hulle teken vier doele aan en hulle doen dit elke keer,” het Keane ná die ronde van 16-wedstryd gesê.

“Ek gee nie soveel om oor daai aanvanklike danspassies nie. Dit is die een daarná, en feit dat die bestuurder ook betrokke raak. Ek is nie gelukkig daaroor nie. Ek dink glad nie dis ‘n goeie ding nie.”

Die man wat dit alles begin het, Junior, glo egter dat die vieringe ingeëts is by Brasiliaanse kultuur, of dit nou op of langs die sokkerveld gebeur.

“Ek glo ek was die eerste een wat samba-passies in ‘n Wêreldbeker uitgevoer het,” sê Junior, wat die huidige toernooi vir Globo dek.

“Maar ons dans nie omdat ons punte aangeteken het nie. Daai doele word geskop juis omdat ons dans. Dit was nog altyd die geval, as gevolg van die verhouding wat musiek en dans met Brasiliaanse sokker het.”

Brasiliaanse sokker was nog altyd sinoniem met flair. Spelers soos Ronaldinho en Neymar is bekend daarvoor dat hul truuks wat trek op danspassies gebruik om verby verdedigers te manoeuvre.

Terwyl sommige mense, selfs skeidsregters, nie hou van die vaardighede wat dikwels deur Brasiliaanse sokkerspelers gebruik word nie, is dit ‘n styl wat hul sover vyf Wêreldbeker-toernooie in die sak gebring het.

Maar ten spyte van die voortdurende kritiek oor hul sokkerstyl en nou selfs hul manier van doele vier, het Brasilië nog altyd aan hulself getrou gebly.

As hulle Vrydag in hul kwarteindstryd teen Kroasië agter in die net gaan boer, moet ondersteuners hul maar regmaak vir ‘n span wat jubel en uitbundig, Brasiliaans, die heupe wikkel.

Op die foto hierbo: Brasilië se span dans na ‘n doel teen Suid-Korea

Beeldbron: @FifaWorldCup