Lucky Maree
Die enigste verrassing oor Eddie Jones se afdanking is dat dit op Dinsdag en nie reeds Maandag gebeur het nie.
Jones het al ‘n geruime tyd ‘n geweer teen sy kop, maar Engeland se vertoning in die Herfs Internasionale Toernooi, waar hulle drie uit vier wedstryde verloor het, het dit soveel makliker gemaak vir die Engelse bestuur om die sneller te trek.
Toe die Springbokke die Rooi Roos aan flarde skeur, was daar min twyfel dat Jones in die pad gesteek sou word. Jones se verkondiging dat die Engelse mislukking “heeltemal my skuld” was, het dalk ‘n mate van simpatie verwerf, maar dit het geensins verander hoe die bestuur oor sy prestasie gevoel het nie.
Jones het drie Sesnasies-titels in sy sewe jaar in beheer van Engeland gewen, en het die span na die 2019 Wêreldbeker-eindstryd gelei.
Hy is ook beroemd daarvoor dat hy gesorg het vir een van die Springbokke se grootste verleenthede in die geskiedenis van die spel: hul nederlaag teen Japan toe hy hul as afgerigter gelei het tot oorwinning by die 2015 Wêreldbeker.
Maar dit het gelyk of die gety by die 2019 Wêreldbeker sou draai. Die Engelse spelers het dikbek van die veld af gestrompel en op een of ander manier kon hulle sedertdien nog nie weer hul koppe omhoog lig nie.
Is nege maande lank genoeg vir ‘n afrigter om sy vuisvoos span reg te ruk?
Die Engelse bestuur het die voorspeler-afrigter Richard Cockerill op ‘n tussentydse basis in beheer van die span geplaas, wat beteken dat, terwyl die horlosie voorttik, daar geen leier is nie.
Engeland benodig inderhaas ‘n afrigter – en dis nie nou tyd om “die beste van die res” te aanvaar nie. Engeland benodig ‘n briljante afrigter, en baie binnekort.
Op die foto hierbo: Eddie Jones
Beeldbron: @TheTelegraph