Marokko blaas lewe in Afrika se hoop op Wêreldbekervreugde

Dylan Bettencourt

Marokko het deurgedring na hul eerste Fifa Wêreldbeker-kwarteindstryd ooit, nadat hul Spanje Dinsdagaand met 3-0 in ‘n strafdoelstryd verslaan het.

Marokko is nou die enigste Afrika-nasie wat nog vir die topprys kompeteer, ondanks die feit dat hul kanse teen Spanje rondom nul geag is.

Daar is baie min wat die twee lande geografies skei, en daar was niks om die spanne ná 120 minute se sokker te skei nie.

Die Atlas Leeus het yslike druk van die Spaanse offensief absorbeer, maar die verdediging het staande gebly om vir Marokko hul beste kans op vordering te verleen: strafdoele.

Om in die ronde van 16 te wees, was prestasie genoeg vir Marokko, wat vir die eerste keer sedert die 1986 Wêreldbeker-sokkertoernooi verby die groepfase gevorder het.

Dinge het egter onmiddellik heelwat verbeter vir Marokko die oomblik toe Pablo Sarabia Spanje se openingsdoelskop gemis het.

Abdelhamid Sabiri het ‘n doel vir Marokko aangeteken voordat Carlos Soler Spanje se tweede strafdoelpoging gemis het.

Die Marokkaanse doelwagter Yassine Bounou het gelyk na sy land se nuutste held. ‘n Laat draai was egter op die kaarte toe Badr Benoun sy strafdoel gemis het.

Toe die Spaanse legende Sergio Busquets sy aanloop maak, het hy selfversekerd in Bounou se rigting geglimlag voordat hy ‘n mank bal die doelwagter se arms ingestuur het: 0/3 vir Spanje.

Die heelal het sy stempel afgedruk toe die Spaans-gebore PSG-speler Achraf Hakimi na die skopbof toe oorgeloop het.

Die ster-vleuelagter het sy strafdoel middellangs afgevuur om Marokko se oorwinning te beklink.

Dit is die eerste keer in Marokko se geskiedenis dat hulle die kwarteindstryd van ‘n Wêreldbeker behaal het, en hulle het dit vermag deur middel van hul eerste strafdoelstryd ooit.

Marokko kom nou voor ‘n moeilike taak te staan, teen óf Switserland óf Portugal, maar die Noord-Afrikane blyk perde van ‘n ander kleur te wees.

Walid Regragui en sy span het die hele toernooi sover nog net een doel afgestaan, en dit was ‘n eie-doel.

Afrika sal sonder twyfel bankvas agter Marokko staan wanneer hulle op Saterdag 10 Desember die veld betree vir ‘n plek tussen die finale vier.

Op die foto bo: Marokko het veel om oor fees te vier

Beeldbron: @Goal