Broers doodgesteek toe hul suster se verkragters probeer keer

Celani Sikhakhane

Twee jong mans is vermoor en hul liggame weggegooi nadat hulle Saterdagaand vergeefs probeer het om te keer dat booswigte hul suster verkrag.

Die jong mans, onderskeidelik 15 en 25 jaar oud, van die dorpie eMatheni in Nongoma in die noorde van KwaZulu-Natal, het aan hul steekwonde beswyk.

Die twee verdagtes het toegang tot die huis verkry deur te beweer dat hulle die 25-jarige huis toe gebring het, aangesien hy glo dronk was en nie sonder hulp kon loop nie.

Die ma het die deur vir hulle oopgemaak sonder om te skroom – en toe eers besef dat sy geflous is. Haar seun was nêrens te sien nie.

“My dogter het vinnig haar broer gebel wat bevestig het dat die verdagtes lieg en dat hulle hom gelos het by ‘n seremonie wat hulle albei in die dorp bygewoon het. Ons het daar en dan besef ons is in die moeilikheid,” het die ma gesê.

Die oudste seun het belowe om huis toe te jaag om die situasie te ontlont, maar hy was natuurlik te ver weg.Die verdagtes het die jong vrou onmiddellik aangeval en haar, ten aanskoue van haar ma, begin verkrag.

Toe haar pa en ‘n jonger seun die rumoer vanuit hul slaapkamers hoor, het hulle gaan kyk wat aangaan.

Hulle het probeer om die verkragting te keer, maar is verskeie kere deur die verdagtes gesteek, wat om die beurt die 20-jarige dogter verkrag het voordat hulle haar ook steekwonde toegedien het.

Die ma, wie se identiteit geheim gehou word om haar dogter te beskerm, het aan Scrolla.Africa gesê haar familie sal nooit die beproewing wat hulle deurgemaak het, vergeet nie.

“Hulle was genadeloos, en het nie omgegee dat ons hulle ken nie. Toe my seun by die huis kom nadat ons hom gebel het, het hulle hom ook aangeval, en hom en sy jonger broer bebloed en verswak die huis uit gesleep. My hele huis was vol bloed.”

Toe die ouer broer tuiskom het hy gesien dat sy pa en broer gewond, en sy suster verkrag is. Voordat hy homself kon verdedig het die verdagtes hom aangeval en noodlottige steekwonde toegedien.

Die moordenaars het vertrek en die twee sterwende seuns saam met hulle gesleep, terwyl hul ma gelos is om haar gewonde dogter en man te versorg Die dogter en pa is met steekwonde in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem, maar is Sondag ontslaan.

“Ek sal hulle nooit vergewe vir wat hulle aan my gesin gedoen het nie, hulle het ons almal daadwerlik doodgemaak. Ons sal nooit hiervan herstel nie,” het die ontstelde ma gesê.

Die gemeenskap het Sondag na die broers gesoek, en hul liggame is eers teen Maandagoggend op twee verskillende plekke gevind.

Woedende gemeenskapslede het Maandag, nadat die lyke ontdek is, probeer om die verdagtes se huise af te brand.

Polisiewoordvoerder Konstabel Thenjiwe Ngcobo het gesê die polisie soek steeds na een beskuldigde op aanklagtes van moord, poging tot moord en verkragting.

“Hulle was twee verdagtes en die polisie het daarin geslaag om een ​​te arresteer, wat steeds by die kwaCeza-aanhoudingselle in Nongoma is,” het Ngcobo gesê.

Op die foto hierbo: Nongoma-township

Beeldbron: Facebook