Tladi Moloi
‘n Vrou van Bloemfontein veg om haar lewe in die hoësorgeenheid nadat sy probeer het om selfmoord te pleeg toe sy verneem het dat die DBV haar pitbull-terapiehond, Chloe, van kant gemaak het.
Liezel Jansen, 44, het ‘n oordosis tablette geneem ná die slegte nuus dat haar geliefde emosionele ondersteuningsdier ‘n sogenaamde genadedood ondergaan het.
Jansen het Chloe na die Vrystaatse DBV geneem vir beskerming ná dreigemente van die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) op 24 November dat hulle van huis tot huis sou gaan om pitbulls met geweld te verwyder as hulle nie binne sewe dae oorhandig word nie.
Uit vrees vir die veiligheid van haar hond het sy dit op dieselfde dag ingehandig, met die verstandhouding dat die DBV dit veilig sou hou.
Scrolla.Africa is meegedeel dat Jansen, nadat die hond ingehandig is, gedurig gebel het om uit te vind of dit goed gaan met die hond. Die DBV het egter ná ‘n ruk opgehou om haar oproepe te beantwoord – en dis toe dat sy agterdogtig geraak het.
Volgens een lid van die pitbull-gemeenskap wat verkies om anoniem te bly, het Jansen Chloe as haar terapiehond aangeneem ná die grusame dood van haar man.
“Daardie hond was vir haar soos ‘n kind. Sy het dit verkry nadat haar man in sy motor doodgebrand het,” aldus die bron.
Jansen se seun, Joshua Sauls, het gesê Chloe is noodsaaklik vir sy ma se geestesgesondheid, en het bygevoeg dat die hond haar gemaak het wat sy is.
“Hulle het ons beroof. Sy was lief vir daardie hond omdat dit haar gehelp het. Die hond was nooit aggressief nie. Die ou van die DBV het haar die papiere laat teken sonder om iets aan haar te verduidelik. Sy sou nie geteken het as sy geweet het wat daarin gestaan het nie,” het hy gesê.
Desiree Barnard, ‘n vriendin van Jansen, het gesê sy het bekommerd begin raak oor Chloe se veiligheid.
“Sy het die DBV gebel om die hond vir veilige bewaring te kom oplaai omdat sy bang was dat dit dalk vergiftig sou word.
Saterdag het ons op daarheen opgetrek en my vriendin het gehoop sy gaan haar hond terugkry. Ons het voor almal gevra of die hond OK is en hulle het gesê nee, die hond leef nie. Jansen het op die grond geval en begin huil,” het sy gesê.
Sy het gesê drie van die administrateurs is gevra om in te kom om met die inspekteurs te praat. “Ek het gevra hoekom die hond doodgemaak is omdat dit ‘n terapiehond was, en ons is meegedeel dat die hond aggressief was.”
Sy sê hulle het die verslag gevra wat bepaal het dat Chloe se gedrag getoets en geëvalueer is, maar is meegedeel dat die verslag vertroulik is.
“Hulle het ook vir ons gesê die hond is doodgemaak op die dag toe sy daar aangekom het.”
Die DBV het in die verklaring gesê hulle sal nie om verskoning vra dat hulle ingevolge die organisasie se mandaat opgetree het nie.
“Sy is nie aangemeld vir inbly of veilige bewaring soos beweer word nie. Ons het die taak aangevat … ons deure oopgemaak vir honde wat andersins deur ‘n woedende gemeenskap gemartel en doodgemaak sou word. Die DBV het gedoen wat ander wetstoepassingsdepartemente lankal moes gedoen het. Ons het proaktief opgetree om wreedheid teenoor pitbulls te voorkom,” lui die verklaring.
Op die foto hierbo: Liezel Jansen en haar pitbull, Chloe
Beeldbron: Verskaf