NUK steun Ramaphosa, maar daar’s meer hekkies om oor te spring

By Lungani Zungu

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het aan President Cyril Ramaphosa ‘n reddingsboei gegooi, toe hul as die party se hoogste besluitnemende liggaam die Artikel 89-paneelverslag verwerp het.

Die NUK het Maandag in Nasrec, Johannesburg, vergader om oor Ramaphosa se lot in sy afwesigheid te beraadslaag, nadat hy van die vergadering verskoon is omdat hy die persoon onder bespreking was.

Ramaphosa se bondgenote het hierdie rondte gewen. Die meerderheid NUK-lede het Ramaphosa gesteun om aan te bly as president van die party en die land nadat hy dokumente ingedien het, en die verslag nou hersien word.

Die paneel – gelei deur Regter Sandile Ngcobo – het bevind dat Ramaphosa rekenskap moet gee oor die toesmeer van ‘n $600 000 diefstal by sy Phala Phala-plaas in Februarie 2020.

Verder het die paneel ook bevind dat $850 000 glo in ‘n rusbank versteek was en nie aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank verklaar is nie.

Paul Mashatile, waarnemende sekretaris-generaal, het gesê die NUK het sy gewig agter Ramaphosa gegooi nadat die Phala Phala-verslag “ten volle en eerlik” bespreek is.

Nog ‘n hupstoot vir Ramaphosa was toe speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die African Transformation Movement se bod vir ‘n geheime stemming verwerp het. Stemming vir die aanvaarding van die verslag vind Dinsdag in die Nasionale Vergadering plaas.

Dit beteken dat al die LP’s se stemme bekend sal wees – of hulle vir of teen die aanvaarding van die verslag stem.

Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, het gesê ANC-LP’s sal as “bloc” teen die aanvaarding van die verslag stem.

“Die boodskap van die NUK is duidelik dat alle ANC-parlementslede teen die aanvaarding van hierdie verslag moet stem. Dit is ons opmarsbevel,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.

Die ANC geniet ‘n meerderheid in die Nasionale Vergadering van 230 LP’s uit ‘n totaal van 400.

Daar is egter bespiegel dat sommige ANC-LP’s, wat Ramaphosa se kop op ‘n bord wil sien, waarskynlik ten gunste van die verslag se aanvaarding was.

Julius Malema, leier van die EFF, het Maandag tydens ‘n media-inligtingsessie gesê die syfers is “goed”, as die DA net wou ophou bollemakiesie slaan.

Hy het ANC-presidensiële hoopvolles Nkosazana Dlamini-Zuma en Lindiwe Sisulu uitgedaag om in die openbaar ten gunste van die verslag te stem.

Ramaphosa is vir ‘n tweede termyn as president van die ANC verkiesbaar en sal waarskynlik meeding met die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, wat ook sy oog op die top-pos het.

Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa