LAATVAT MET LUCKY: Terwyl ek hier skryf kyk die Engelse afrigter, Eddie Jones, teen die loop van ‘n geweer af en iemand mag binnekort die sneller trek. Kan ons verwag dat die bloed gaan vloei? vra Lucky Maree.
Verlede Sondag het die Haaie ‘n vernederende tuisnederlaag van 0-35 gely in die reën in Durban; teen Maandagaand was afrigter Sean Everitt veldskoon.
“Hierdie moeilike besluit is geneem in die beste belang van die span se pad vorentoe,” het uitvoerende hoof Ed Coetzee Maandagaand in ‘n betekenislose en flou verklaring gesê.
Natuurlik moes die besluit om hom die deur te wys baie vergemaklik gewees het deur die feit dat die Haaie se direkteur van rugby, Neil Powell, in die vleuels gewag het om die pos van afrigter oor te neem – sy eerste taak was die United Rugby Championship-wedstryd teen die Ospreys, wat deur die Sharks gewen is.
Wat Everitt se afdanking betekenisvol maak, is dat die ontevredenheid wat op internasionale vlak borrel, binnekort mag oorkook.
Rassie Erasmus loop nou al geruime tyd op dun ys. Met Wêreldrugby wat druk op hom geplaas het om binne die reëls van internasionale rugby te werk, het selfs Rassie se vurigste ondersteuners gevra – of gepleit? – vir hom om net ‘n bietjie terug te staan. Rassie? In trurat? Dit blyk dat ‘n olyftak in daardie konflik rondgewaai is, deur wie weet ons nie. En daar’s baie op die spel. As Rassie weer geskors word, sal hy nie die Wêreldbeker kan bywoon nie, en Suid-Afrikaanse rugby kan dit nie bekostig nie.
Hoe meer die druk op Eddie Jones toeneem, hoe meer lyk hy soos ‘n glimlaggende wipkop-Jesus-pop in die agtervenster van ‘n 1958 Cadillac. Engeland het pateties daar uitgesien toe hulle verlede Saterdag deur die Springbokke weggeblaas is. Selfs die wedstryd waarin hulle gelykop gespeel het teen die All Blacks, het sy eie nare nasleep. “Hoekom het hulle volstaan met ‘n lamsakkige gelykopuitslag toe ‘n yslike oorwinning op die kaarte was?” wil die ondersteuners weet.
Dis beslis nie ‘n uitgemaakte saak dat Ian Foster die Wêreldbeker gaan haal nie. Die All Blacks word altyd daarvan beskuldig dat hulle hul veggees verloor wanneer dit saakmaak. Die bewering is meestal ongegrond, maar om 19 punte in nege minute teen Engeland af te staan, is ‘n aanklag wat g’n mens kan ignoreer nie. Die Wêreldbeker is ‘n plek vir vegters – sport se grootste armdruksessie – en die hele Nieu-Seeland wonder of sagmoedige reus Ian Foster hond haar-af sal maak.
Dave Rennie is dalk bekend as die speler se afrigter en baie geliefd by sy span, maar hy het lanklaas met iets nuuts vorendag gekom. Nie al Australië se probleme kan op die afrigter geblameer word nie, maar beide vriend en vyand moet erken dat Australiërs nie daarvan hou om te verloor nie. Saggeaard is hulle nie.
Die krake begin ook wys daar doer in Argentinië. Michael Cheika is ‘n wisselvallige karakter en die Argentyne se Latynse temperament is besig om buite beheer te wentel. Die wedstryd tussen Argentinië en Skotland het een rooi en ses geel kaarte opgelewer. Die vraag is nie of Cheika sy spelers kan beheer nie. Die vraag is, wie sal vir Cheika beheer?
Om verder olie op die vuur te gooi – en nie op ‘n prettige manier nie – is daar die groeiende ontevredenheid met Wêreldrugby. Die hele wêreld gekritiseer hul lompe hantering van dissiplinêre kwessies en weiering om te aanvaar dat a) die forseer van skeidsregters om meer kaarte uit te deel en b) om afrigters se stilswye af te dwing, onaanvaarbaar is. Terwyl almal probeer om Rassie te kry om sy mond te hou, stem niemand met hom saam nie. Die tyd gaan kom wanneer daardie meesters van rugby gerooikaart gaan word. ‘n Mens hoop dit sal voor die Wêreldbeker-toernooi gebeur.
Bloed wat vloei? Nog nie sover nie, maar dalk vandag.
Op die foto hierbo: Geen glimlag nie: Eddie Jones staar die valbyl in die gesig
Beeldbron: NewsChain