Dylan Bettencourt
Nie net het Marokko maar die tweede Afrika-span geword wat tot die Wêreldbeker se uitkloprondtes deurgedring het nie, hulle het dit vermag as top presteerders in hul groep.
Dié prestasie is selfs meer indrukwekkend as mens daarvan kennis neem dat hul groep die 2018-finaliste Kroasië, sowel as wêreld nommer twee, België, ingesluit het.
Die Atlas Leeus was in top kondisie vir hul Groep F-eindstryd, en vier punte sterk na hul verrassende verslaning van België.
Al wat Marokko dus moes doen was om ‘n nederlaag te vermy, en te hoop dat België nie Donderdagaand vir Kroasië sou wen nie.
Maar die manne van Noord-Afrika het dit ‘n stap verder gevat, en Kanada met 2-1 verslaan om hul plek boaan die groep te verseker.
Die eerste doel was ‘n geskenk van Kanada, aangesien die doelwagter probeer het om skoon te maak, maar toe die bal reguit in die pad van Hakim Ziyech plaas, wat hom mooitjies agter in die net laat beland het.
Hiervandaan het dinge net verbeter vir Marokko toe Youseff En-Nesyri ‘n wonderlike halfvlugdoel aangeteken het om hul voorsprong sodoende te verdubbel.
Kanada het daarin geslaag om ‘n doel terug te trek toe ‘n kruispoging deur Marokko se Nayef Aguerd in sy eie net gestuit is.
Marokko het vir die eerste keer sedert die 1986 Wêreldbeker vir die uitklopfase gekwalifiseer.
Dit was egter nie beskore vir België nie – die span wat net onder Brasilië op die ranglys verskyn – aangesien hul wedstryd in ‘n doellose dooiepunt geëindig het.
Na hul derde plek in die 2018 Wêreldbeker in Rusland, is dit ’n absolute ramp vir België en hul hoofafrigter, Roberto Martinez.
Die Europese reuse kon net een doel aanteken tydens hul kuier in Katar, met hul 1-0 oorwinning teen Kanada.
Hierdie yslike onthutsing kom te midde berigte van ‘n verbrokkelde verhouding tussen spelers in die Belgiese kleedkamer.
Berigte dui daarop dat verskeie spelers vroeër vandeesweek by ‘n onderonsie betrokke was, insluitend spelers wat weens persoonlike redes vir jare lank al nie met mekaar praat nie.
Op die foto hierbo: Marokko vier hul oorwinning
Beeldbron: @FifaWorldCup