Gaan Ramaphosa aanhou boks of die handdoek ingooi?

Zukile Majova en Lungani Zungu

President Cyril Ramaphosa se donkerste uur het aangebreek, met sy lot nou in die hande van ‘n ANC faksie wat reeds vir vyf jaar lank probeer om van hom ontslae te raak.

In die voorste linie is Nkosazana Dlamini-Zuma, wat daarop aandring dat haar presidensiële veldtog steeds op koers is ondanks die feit dat sy nie die vereiste ondersteuningsdrempel kon behaal nie.

“Ek dink die president moet opsy staan. As jy die ANC se reël in hierdie verband gaan lees, dink ek hy moet opsy staan,” het Dlamini-Zuma op Enca gesê.

Die ANC sou na verwagting Donderdag ‘n dringende vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) hou ná vrystelling van die verslag deur ‘n paneel onder voorsitterskap van afgetrede Hoofregter Sandile Ngcobo rakende die Phala Phala-aangeleentheid.

Die vergadering van die party se hoogste besluitnemende liggaam, wat Ramaphosa se lot kan verseël, is egter na Vrydag toe uitgeskuif.

Ramaphosa se vyande – ondermeer NUK-lede Tony Yengeni en Lindiwe Sisulu – sal na verwagting die druk vermeerder vir hom om óf uit te tree, óf gedwing word om te bedank.

Hulle dring ook daarop aan dat die vergadering in persoon, liewer as virtueel gehou word.

“Hy moet nou waai. Ons kan nie bekostig om hom as ons president te hê nie, want hy is onder verdenking,” het Yengeni in ‘n kort onderhoud aan Scrolla.Africa gesê.

Diegene wat eis dat Ramaphosa moet bedank, se saak word versterk deur die verslag wat bevind het dat die president moontlik die wet oortree het.

Dit spruit alles uit verbloeming van die feit dat $600 000 gesteel is by sy Phala Phala-plaas in Februarie 2020.

Die geld was glo binne ‘n rusbank versteek, en was nie by die Suid-Afrikaanse Reserwebank verklaar nie.

Sedert hul beheer oor die ANC verloor het tydens die verkiesingskonferensie by Nasrec in 2017, is die faksie onder leiding van oudpresident Jacob Zuma vasbeslote om Ramaphosa om elke hoek en draai te kniehalter.

Daar word vermoed dat meer as helfte van die lede van die huidige NUK betrokke is by verskeie bewerings van wangedrag, insluitend bedrog en korrupsie.

Baie van hulle het gevra dat die Zondo-kommissie se verslag, wat as hoeksteen van Ramaphosa se bewind gedien het, oor die hoof gesien word.

Die vervolging van senior ANC-lede in die komende maande kan moontlik uit hierdie verslag voortvloei.

Die nasie sal in die komende dae uitvind of Ramaphosa gaan bedank of voortveg.

Die president was veronderstel om die nasie Donderdagaand toe te spreek, maar dit is ter elfder ure gekanselleer.

Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya het gesê dat Ramaphosa nou oorweeg wat in die land se beste belang sal wees.

“Hy raadpleeg baie mense oor sy volgende stap. Daar is verskeie opsies op die tafel,” het Magwenya aan die media gesê.

Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa

Beeldbron: Bloomberg