By Thabisa Ndzindzwa
Zukiswa Gorvan van Chaguba, naby Port St Johns in die Oos-Kaap, leef al vir 10 jaar lank met MIV, en nou gebruik sy haar ervaring om deur middel van WhatsApp ondersteuning vir andere te bied.
Zukiswa het uitgevind sy is MIV-positief op ouderdom 16 – en moes verwerping van die gemeenskap en by die skool verduur, wat daartoe gelei het dat sy versuim het om haar behandeling te neem op twee geleenthede tussen 2014 en 2017.
“Ek was reeds siek toe ek uitgevind het ek is MIV-positief. Om die nuus aan te hoor het my toestand vererger, want ek kon dit net nie aanvaar nie,” het Gorvan gesê.
Gorvan het met behandeling begin en goed herstel. Uiteindelik het sy haarself gesond gedokter, gewig opgetel, en gevoel sy hoef nie meer anti-retrovirale middels (ARVs) te neem nie.
“Nadat ek my behandeling in 2016 laat vaar het, het ek in 2017 verskriklik siek geword – tot op ‘n punt waar my ma verwag het om nuus van my heengaan te hoor,” het sy gesê.
“Op hierdie stadium het ek ‘n besluit geneem om beste maats met my ARVs te maak, en dis tot vandag toe nog die geval.”
Gorvan het ook die Groot K oorleef, nadat sy verlede jaar met servikale kanker gediagnoseer is.
In 2021 is sy deur ander aktiviste op sosiale media gemotiveer, en sy het toe haar status met haar gemeenskapslede begin deel.
“Ek het ’n WhatsApp-ondersteuningsgroep begin omdat daar geen soortgelyke groepe by ons plaaslike klinieke is nie. Pas gediagnoseerde pasiënte weet niks van hul siekte nie, nie eers hul viruslading of watter tipe behandeling wat hulle gebruik nie,” het sy gesê.
Gorvan het in haar plaaslike kliniek hieroor navraag gedoen, en is meegedeel dat gesondheidsfasiliteite oorlaai is; verpleegsters kan nie meer as 20 minute saam met een pasiënt deurbring nie omdat daar nie genoeg personeel is nie.
Swak behandeling deur personeel ontmoedig jongmense nog verder daarvan om gesondheidsentrums te besoek.
Hul ondersteuningsgroep sluit twee verpleegsters en ‘n dokter in, wat mediese advies verleen. Kontak Zukiswa Gorvan by 076 044 3347 om by haar ondersteuningsgroep aan te sluit.
Op die foto hierbo: Zukiswa Gorvan
Beeldbron: Zukiswa Gorvan