Karabo Rammutla
‘n Mede-gevangene by die Kgosi Mampuru II-korrektiewe fasiliteit in Tshwane het aan Chris Hani se moordenaar, Janusz Walus, ‘n steekwond toegedien net twee dae voordat hy op parool vrygelaat sou word.
Daar is met Walus na ‘n tronkhospitaal gejaag en hy is in ‘n stabiele toestand nadat ‘n ander gevangene hom Dinsdag met ‘n skerp voorwerp aangeval het.
Die omvang van Walus se beserings is steeds duister en die identiteit van sy aanvaller is nog nie bekend gemaak nie.
Singabakho Nxumalo van die Departement van Korrektiewe Dienste het in ’n verklaring die voorval bevestig.
“Wat op hierdie stadium beaam kan word, is dat gevangene Walus stabiel is en DKD-gesondheidsorgbeamptes verskaf die nodige sorg,” het hy gesê, en bygevoeg dat ‘n gedetailleerde voorvalverslag op ‘n latere stadium verskaf sal word.
“Messteek en ander vorme van steurnisse is oortredings wat nie in ’n korrektiewe omgewing geregverdig kan word nie en hierdie saak sal ondersoek word,” het hy gesê.
Die 69-jarige Walus is skuldig bevind aan die moord op Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party-leier en anti-aparteid ikoon, Chris Hani, in 1993.
Sy saak het verlede week wydverspreide media-aandag getrek toe dit aangekondig is dat Walus op parool vrygelaat gaan word.
In ‘n landmerk-uitspraak het Hoofregter Raymond Zondo aan die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste 10 dae gegee om Walus vry te laat.
Die Konstitusionele Hof het Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, se Maart 2020 besluit om Walus-parool te weier, tersyde gestel.
Lamola is ook beveel om Walus se regskoste te betaal.
Walus, ‘n Poolse immigrant, se Suid-Afrikaanse burgerskap is in 2017 teruggetrek. Die Ministerie van Binnelandse Sake het egter vandeesweek gesê hy het permanente verblyfreg vir sy parooltydperk.
Op die foto hierbo: Chris Hani se moordenaar Janusz Walus het in die tronk ‘n steekwond opgedoen
Fotobron: @sa_crime