Gesinne van Iran se Wêreldbeker-span gedreig

Verskeie familielede van die Iraanse nasionale sokkerspan is gedreig voor hul laaste groepfase-wedstryd teen die Verenigde State.

Die families is gewaarsku dat hulle tronkstraf en marteling in die gesig kan staar as die spelers hulle nie Dinsdagaand “gedra” nie, het CNN berig.

In solidariteit met die land se vroueregtebeweging, het die Iran-spelers geweier om die land se volkslied te sing tydens hul Fifa Wêreldbeker-opening teen Engeland.

In hul tweede wedstryd teen Wallis het die spelers egter die lied gesing, met berigte wat daarop dui dat die staat gewaarsku het oor die gevolge as hulle weer sou weier.

Met trane wat oor die gesigte van beide spelers en hul ondersteuners gestroom het, het ‘n emosionele span van Iran die volkslied gesing, terwyl hulle geboe is deur mense in die stadion.

‘n Bron binne die sekuriteitspan van Iran het gesê verskeie lede van die Iraanse Revolusionêre Wagkorps het elke speler dopgehou.

“Daar is ‘n groot aantal Iraanse veiligheidsbeamptes in Katar wat inligting versamel en die spelers monitor,” het die bron gesê.

Dieselfde bron het vertel dat die Iraanse regering voor die toernooi aan spelers geskenke en motors belowe het, maar ná die protesaksie het dit vinnig verander in dreigemente en waarskuwings.

Die regime het glo verskeie mense gehuur om Iran in die stadion te “ondersteun” tydens die groepfase-wedstryde, met meer wat Dinsdagaand teen die VSA teenwoordig sal wees.

“In die laaste wedstryd teen Wallis het die regime honderde van hierdie akteur-ondersteuners gestuur om ‘n valse gevoel van aanmoediging en gunstigheid by aanhangers te skep,” het die bron gesê.

“Vir die wedstryd teen die VSA beplan die regime om die aantal akteurs aansienlik te vermeerder, tot ‘n paar duisend.”

Beide Iran en die Verenigde State weet ‘n oorwinning sal hulle deursien na die ronde van 16 toe. ‘n Gelykopuitslag vir Iran mag egter genoeg wees.

As Engeland vir Wallis laat les opsê en Iran ‘n nederlaag vermy, sal hul eenmalige oorwinning genoeg wees om tot die uitklopfases deur te dring.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: Iran-spelers tydens die sing – of te nie – van hul volkslied

Beeldbron: @TheNewYorkTimes