Wat Twickenham ons geleer het oor die Bokke, die All Blacks, en Engeland

LAATVAT MET LUCKY: Die twee wedstryde wat die afgelope twee naweke op Twickenham gespeel is, mag heel moontlik die belangrikste wedstryde van die hele jaareindtoer wees, skryf Lucky Maree.

Die Springbokke het Saterdag ‘n puik oorwinning op Twickenham behaal; die week voor dit, het die All Blacks nié. Albei spanne het teen Engeland gespeel. En dit, in ‘n neutedop, is die grootste aanduiding nóg van die Wêreldbeker wat voorlê.

In die wedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland op Twickenham op 19 November het die All Blacks, met tien minute speeltyd oor, die stryd so te sê gewonne gehad. Hulle het ‘n voorsprong van 19 punte gehad en al wat hulle moes doen was om die tyd om te kry en van die veld af te stap, in hul noppies met ‘n goeie dag se werk.

Maar toe steek die kaartstelsel – die kanker wat stadig besig is om rugby te vernietig, en die wêreld herinner dat die skeidsregter die belangrikste persoon op die veld is – sy kop uit, toe Beauden Barrett ‘n geelkaart kry.

Met nege minute oor tot voltyd, behoort dit op sigself nie die einde van die wêreld te wees nie.

Maar toe kom Engeland terug. In ‘n pragtige vertoning van hardnekkige vasberadenheid, teken Engeland 19 punte aan om die tellings gelyk te maak, wat die verpletterde All Blacks laat rondstaan ​​en wonder wat gebeur het.

Tydens die wedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika gebeur iets soortgelyks amper. Met 20 minute speeltyd oor en Suid-Afrika voor met 21 punte, kry Thomas du Toit ‘n rooikaart.

Engeland reageer net soos hulle die vorige week het.

Die kommentator verwoord die ooglopende: “Verlede week het Engeland 19 punte in nege minute aangeteken, kan hulle vandag 21 punte in 20 minute aanteken?”

Kort antwoord? Watwou!

Toe Engeland se Henry Slade uiteindelik ‘n drie teen 70 minute druk (hul enigste drie van die wedstryd), kom dit van ‘n tikstrafskop wat geneem is terwyl Faf de Klerk op die veld sit en sy beseerde enkel vashou.

En dit is die laaste keer wat Engeland punte aanteken. Hulle verloor die wedstryd met 14 punte.

Op jul merke, gereed, weg na die Wêreldbeker.

Nieu-Seelandse afrigter, Ian Foster, bewys die ou gesegde: “Wys my ‘n goeie verloorder en ek wys jou ‘n verloorder.” Die All Blacks se gebrek aan veggees, hul bereidwilligheid om te verloor, is die een ding wat Ian Foster aan sy span “geskenk” het. Wanneer die tyd aanbreek vir hulle om te verloor, sal hulle verloor.

Eddie Jones, Engeland se afrigter, het ‘n Jack Russell-agtige vasberadenheid by sy spelers gekweek om aan die hakke van die groter hond te bly hap. En wanneer dit werk, soos teen die All Blacks, is dit ‘n beelskone gesig. Maar wanneer dit nie werk nie, is dit so lelik, dis amper hartseer. Groot honde hardloop dikwels weg vir klein hondjies, soos die All Blacks gedoen het, maar partykeer byt die groot hond terug.

As Ian Foster ‘n goeie verloorder is, is Eddie Jones se Engeland die teenoorgestelde. Sjoe, sowat van swak verloorders!

Die Springbokke was daai groot hond wat met die Jack Russell te doen gehad het. Rassie Erasmus was dalk nie op die veld nie, maar sy veggees was daar inderdaad. En toe dit saak maak, het die Bokke een van die groot oorwinnings in Springbokgeskiedenis behaal.

Die ooreenkomste met die 2019 Wêreldbeker is ook duidelik. Dit gee mens amper hoendervleis. Engeland het die All Blacks in die halfeindstryd geklop, met die All Blacks wat redelik gedemp gelyk het, nes verlede week. Die volgende week in die Wêreldbeker-eindstryd kon Engeland nie presteer nie en die Springbokke kon wel.

In ag genome die feit dat Frankryk en Ierland groot aanspraakmakers in die komende Wêreldbeker is, kan ‘n mens jouself afvra: verklap die mini-Wêreldbekerstryd wat verlede week tussen die All Blacks, Engeland en Suid-Afrika uitgebaklei is, wat in September in Parys gaan gebeur?

Laat mens dink, nè?

Op die foto bo: Engelse spelers oomblikke ná hul nederlaag teen die Springbokke

Bron: verskaf