Vyf-jarige lewend uit puin, twee dae na Indonesiese aardbewing

By Mashudu Mabila

‘n Vyfjarige seuntjie genaamd Azka was twee dae lank onder puin vasgekeer nadat ‘n aardbewing Indonesië Maandag getref het. Honderde mense het gesterf en baie ontheemdes is sonder huise of gesinne gelaat.

Sy ma is in die ramp dood, maar hy het oorleef omdat hy deur ‘n matras beskerm is.

Voordat Azka gevind is, moes reddingswerkers hul soektog na oorlewendes uitstel weens  swaar reën en die gevaar van grondstortings. Die kans dat enigiemand nog lewend gevind sou word was al hoe skraler, en ‘n amptenaar het gewaarsku dat die tyd uitloop vir enigiemand wat vasgekeer is.

In ‘n video van die redding wat deur ‘n plaaslike brandweerstasie geplaas is, was Azka by sy bewussyn en het kalm voorgekom terwyl hy na veiligheid gelig is.

Een van sy familielede het gesê Azka is gesond en nie gewond nie. Die dokters het gesê hy was net swak omdat hy honger was en twee dae lank vasgekeer was sonder enige water om te drink.

Die aardbewing van 5.6 op die Richterskaal het groot skade aangerig in die dorpie Cianjur, in die berge sowat 75km suid van die hoofstad, Jakarta, en 40 mense word steeds vermis.

Helikopters sou kos en water aan twee dorpies besorg wat nie per pad bereik kon word nie, volgens Henri Alfiandi – hoof van die soek-en-reddingsagentskap,.

Hy het gesê die kanse dat enigiemand lewend in puin die puin gevind word drie dae ná die aardbewing, raak al hoe skraler. Verder is sy spanne vertraag deur die risiko van naskokke wat nog grondverskuiwings op reëndeurdrenkte hange veroorsaak.

Owerhede het hul beywer om meer swaar masjinerie in te bring om die grondverskuiwings te hanteer. Ongeveer 6,000 reddingswerkers is uitgestuur, het die rampversagtingsagentskap gesê. Amptenare het gesê daar was meer as 170 naskokke, insluitend een van 3.9, op Woensdagmiddag.

By ‘n Cianjur-hospitaal is pasiënte buite in tente behandel uit vrees vir naskokke, het ‘n personeellid gesê. Die minister van gesondheid, Budi Gunadi Sadikin, het gesê daar is ‘n dringende behoefte aan ekstra hulp vir pasiënte in hospitale wat tydens die aardbewing beskadig is.

Maandag se aardbewing was so dodelik omdat dit ‘n digbevolkte gebied op ‘n geringe diepte van net 10km getref het. Volgens amptenare het swak boustandaarde tot baie sterftes gelei.

Reddingswerkers bly hoopvol dat meer oorlewendes uit die puin getrek sal word, maar “tyd is nie aan hul kant nie”, volgens Deni Kurniawan – ‘n reddingspanleier vir die Jakarta-gebaseerde nie-regerings organisasie, Human Initiative.

Op die foto hierbo: Azka is aan’t herstel

Beeldbron: ABCNews