Vrou doodgeskiet in fete oor haar pa se huis

By Doreen Mokgolo

‘n Bitter dispuut oor eienaarskap van ‘n gesinshuis in Kwa-Thema, Ekurhuleni, het gelei tot die dood van ‘n vrou wat Woensdagmiddag vermoedelik die slagoffer van ‘n kontrakmoord was.

Vir maande reeds weier die 43-jarige Nocawe Vilakazi om haar ouerhuis aan familie oor te gee.

Woensdagmiddag is sy deur ‘n onbekende man doodgeskiet terwyl sy saam met haar niggie in haar motor gesit het.

Die oorledene se niggie, wat gevra het om nie genoem te word nie, sê hulle het in Vilakazi se motor gesit en wag vir ‘n band om reggemaak te word toe sy ‘n slag hoor.

“Toe ek opkyk sien ek [Vilakazi se] dye vol bloed en dat haar kop skeef hang. Sy het nie eers geskree nie.

“Ek het daar en dan geweet sy’s dood,” het sy bygevoeg.

Vilakazi het haar pa se huis geërf nadat haar ouers in 2021 en 2022 dood is, waarna sy by die huis ingetrek het.

Die huis het aan haar ouma aan vaderskant behoort, wat dit aan haar seun, Vilakazi se pa, nagelaat het.

Daar word beweer dat Vilakazi se ouers besluit het om hul eie huis te verkoop om in die geërfde huis in te trek, aangesien die ouma versoek het dat die huis nie na haar dood verkoop word nie.

Die oorledene se tante, Patricia Soqinase, wat ook in die huis gewoon het, het gesê doodsdreigemente is deur anonieme mans gemaak vir die twee om die huis te ontruim.

“Die bakleiery het begin ná Vilakazi se pa se dood in 2021, toe sy suster geëis het dat Vilakazi se ma die huis moet ontruim en gesê het dat sy, sy suster, die eienaar was sedert haar broer se dood.

“Dit het [Vilakazi se ma] onstel tot op ‘n punt dat sy ‘n hartaanval gehad het, en in die hoësorg opgeneem is waar sy later gesterf het,” het die tante gesê.

‘n Week ná haar heengaan het Vilakazi se familielede geëis dat sy al haar ma se besittings uit die huis verwyder.

Soqinase het bygevoeg dat hulle die afgelope maande geterroriseer is deur ‘n groep gehuurde mans wat wou hê hulle moet die huis verlaat. Hulle het probeer om die huis se slotte te verander, maar het misluk.

“Vilakazi moes die polisie ontbied. Sy het om ’n beskermingsbevel aansoek gedoen en ’n saak van betreding geopen,” het Soqinase bygevoeg.

Springs-polisiewoordvoerder Themba Tshabalala het bevestig dat die polisie ‘n saak van moord ondersoek.

Die polisie het bygevoeg dat hulle vermoed Vilakazi se dood ‘n kontrakmoord was, en dat niemand in hegtenis geneem is nie.

Op die foto hierbo: Die 43-jarige Nocawe Vilakazi

Beeldbron: Verskaf