By Dylan Bettencourt
Dis net ‘n paar dae sedert die Fifa Wêreldbeker in Katar se aanvang, en reeds het die skoonheid van sokker deur die donker wolke gebreek.
In die dae voor die skouspel se amptelike opening is daar verwag dat omstredenheid die middelpunt van gesprek sou wees, maar toe Saoedi-Arabië een van die grootste ontsteltenisse in Wêreldbeker-geskiedenis veroorsaak, het die kollig slegs op sokker geval.
Teen alle verwagtinge in het Saoedi-Arabië vir Argentinië – gunstelinge om hierdie jaar die kroon te lig – verslaan.
‘n Sege van hierdie graad sal vir ewig gewortel wees in die geskiedenis van nie net Saoedi-Arabië nie, maar ook in wêreldsokker.
Dinsdagmiddag se uitslag is die wese van die Wêreldbeker.
Dit is ‘n oomblik so magies dat die koning van Saoedi-Arabië 23 November vir ewig as openbare vakansiedag verklaar het.
Saoedi-Arabië sal dalk nie verby die groepfase vorder nie, maar hierdie oorwinning oor Argentinië is iets wat hulle vir altyd sal koester.
Aan die ander kant hoef Argentinië en hul ondersteuners nie heeltemal moedeloos te voel oor die uitslag nie. Onthou, Spanje het hul openingswedstryd in 2010 verloor en as wêreldkampioene geëindig.
Alhoewel dit nie ‘n indrukwekkende vertoning van die Suid-Amerikaners was nie, kan dit dalk net die skop onder die stert wees wat hul nou benodig.
Die spesiale oomblikke het voortgeduur toe Frankryk Dinsdagaand vir Australië die stryd aangesê het. Met die Ballon d’Or-wenner Karim Benzema beseer, het veteraan Olivier Giroud voorlangs vir die heersende kampioene weggespring.
Australië het gedink hulle kan dalk ‘n magiese oomblik van hul eie hê toe hulle binne die eerste 10 minute van die wedstryd die voortou neem.
Maar dit was hul nie beskore nie, want Frankryk het as 4-1 wenners weggestap. Die belangrikste twee van hierdie doele is deur Giroud aangeteken.
Dié twee doele is inderdaad belangrik, want dit het hom toegelaat om die legendariese Thierry Henry se rekord van 51 te ewenaar as die Franse nasionale span se voorste doelskieter. Giroud benodig nou nog net een suksesvolle poging in die net om sy land se top doelskieter te word.
Wanneer en waarookal daardie doel gaan gebeur, dit sal ‘n onvergeetlike oomblik vir Giroud wees!
Op die foto hierbo: Saoedi-Arabië se feesvieringe
Beeldbron: @Goal