Ronaldo wuif Man United vaarwel

Razeen Gutta

Manchester United het Dinsdag aangekondig dat Cristiano Ronaldo onmiddellik die klub gaan verlaat.

Die witwarm nuus dui op ‘n dramatiese einde aan Ronaldo se rampspoedige terugkeer na die sokkerklub waar hy ‘n huishoudelike naam geword en reputasie verwerf het as een van die beste spelers ter wêreld.

In ‘n hoogs omstrede onderhoud tussen Ronaldo en die joernalis Piers Morgan verlede week, was die Portugese ikoon besonder krities oor Man United, en veral oor afrigter Erik ten Hag.

Hy het aan Morgan gesê dat Ten Hag en die klub verlede somer probeer het om hom uit te werk, en dat hy “geen respek” vir sy bestuurder het nie – ‘n amper ongekende daad van muitery in sokker.

Nadat prokureurs aangestel is met die oog daarop om die Portugese ster vir kontrakbreuk vas te trek, het United nou sy vertrek bevestig in Dinsdag se persvrystelling.

“Cristiano Ronaldo gaan Manchester United verlaat na onderlinge ooreenkoms, effektief onmiddellik. Die klub bedank hom vir sy geweldige bydrae oor twee tydperke op Old Trafford,” het die klub in ‘n verklaring gesê.

In reaksie hierop het die 37-jarige Ronaldo sy eie verklaring uitgereik waarin hy sy liefde vir United en hul ondersteuners uitlig.

“Na gesprekke met Manchester United het ons ooreengekom om ons kontrak vroeg te beëindig. Ek is lief vir Manchester United en ek is lief vir die ondersteuners, dit sal nooit ooit verander nie. Dit voel egter soos die regte tyd vir my om ‘n nuwe uitdaging te gaan soek,” sê Ronaldo.

‘n Rampspoedige terugkeer

Toe Man United in 2021 Ronaldo se terugkeer na die klub onthul het, was die aanhangers rasend opgewonde.

Ronaldo het die Champions League, drie Premierligas, die FA Cup en twee League Cups gewen in ‘n skitterende tydperk van ses jaar onder sy mentor by die klub, Sir Alex Ferguson,.

Hy was hul beste lewende speler en, sover dit meeste Man U-aanhangers aanbetref, die “beste van alle tye”.

Sy terugkeer onder voormalige afrigter Ole Gunnar Solskjaer was egter van die begin af ‘n rowwe pad. In die 2021-22-seisoen het Ronaldo 24 doele vir die klub in alle kompetisies aangeteken.

Sy verdedigende tekortkominge en feit dat hy hom glo soos ‘n “diva” gedra, het egter verseker dat daar voortdurend gesprekke was oor of die span beter daarvan af sou wees sonder hom.

Terwyl verlede seisoen omstrede was, was die afgelope een bepaald katastrofies. Ronaldo het altesaam drie doele aangeteken vir ‘n span wat blykbaar sonder hom aanbeweeg het.

Die Morgan-onderhoud was die laaste strooi vir ‘n klub en bestuurder wat verlig sal wees om van die legende ontslae te wees, ondanks al die glorie wat hy eens op hul almal laat reën het.

Ronaldo sal nie terugkeer na United se Carrington-basis ná die Fifa-wêreldbekertoernooi in Katar nie. Dit is tans onbekend wat sy volgende stap op klubvlak gaan wees.

Op die foto hierbo: Cristiano Ronaldo

Bron: @FabrizioRomano