Sandiso Phaliso
‘n Kaapstadse telekommunikasiemaatskappy is deur sy werknemers as “onmenslik en walglik” beskryf nadat hulle geforseer is om tydens die stad se taxi-stakings by die kantoor oor te slaap.
Capita, ‘n Britse telekommunikasiemaatskappy wat in Kaapstad gesetel is, het personeel verlede week ingelig dat hulle Sondagaand by die werk moet oornag in afwagting van ontwrigtings in openbare vervoer.
Die maatskappy het die naweek ‘n boodskap uitgestuur wat werknemers aanmoedig om by die inbelsentrum te slaap om te verhoed dat produksie ingeboet word in die twee dae wat die taxi-staking veronderstel was om te duur.
Van die werkers het beweer dat badkamers nie in werkende orde was nie, en dat daar geen privaatheid was waar hulle moes slaap nie.
Mbulelo Dwane, verteenwoordiger van Economic Freedom Fighters (EFF), het Maandagaand saam met ‘n handjievol mense na Capita-bestuur gegaan om die besluit te veroordeel.
‘n Werknemer wat gevra het om anoniem te bly, het aan Scrolla.Africa vertel die werkgewer het hulle aangesê om komberse en toiletware saam te bring.
“As ons die toesighouer se boodskap lees, klink dit opsioneel om daar te slaap, maar ons weet wat sal gebeur met mense wat weens die staking nie werk toe kom nie – hulle sal aan ‘n dissiplinêre verhoor onderwerp of ontslaan word,” sê die werknemer.
Die werknemer sê hulle moes buite die kantoor rondhang tot 11nm toe die skof tot ‘n einde gekom het. Sommige het na bewering op die vloer geslaap terwyl ander op lessenaars geslaap het.
“Dit was onmenslik en walglik,” het die werknemer bygevoeg.
Nog ‘n werknemer het gesê daar is geen privaatheid nie en hulle het ingestem om by die kantoor te slaap omdat hulle die werk nodig het om kos vir hul gesinne te voorsien.
“Daar is geen badkamers nie en ons moes in die oggend toiletwasbakke gebruik om te was,” het die werknemer gesê.
Die werknemers het aktiviste bedank wat hul Maandagmiddag tot hulp gesnel het. Aktiviste het by die bestuur gepleit om die werkers toe te laat om by hul huise te gaan slaap.
“Ons was veronderstel om twee dae en drie nagte daar te slaap, maar te danke aan ‘n aktivis wat die bestuur genader het, is ‘n einde hieraan geëis,” het die werknemer gesê.
Jessica Walker, wat namens Capita gepraat het, het gesê die versoek vir werkers om by die kantoor te slaap was opsioneel en nie verpligtend nie.
“Weens die onsekerheid van die staking in Kaapstad, om veiligheid te verseker, het ons kollegas opsies gegee om by die perseel oor te bly. Dit was opsioneel, nie verpligtend nie,” het Walker gesê.
Walker het gesê werkers was vry om te vertrek ná ‘n paar vergaderings Maandagmiddag.
Mbulelo Dwane, ‘n aktivis, sê hulle beplan om die kwessie voort te sit ná die skakeling met Capita-bestuur.
“Niemand gaan vanaand daar oorslaap nie. Ons sal opvolg met die bestuur oor die kwessies wat gelug is,” sê Dwane.
Op die foto hierbo: Komberse neergelê op die Capita-kantoorvloer
Bron: Verskaf