Brandbestryders aangeval terwyl hul teen vlamme baklei

Sandiso Phaliso

Brandbestryders in Kaapstad het die teiken geword van gevaarlike aanvalle deur dieselfde mense wat hulle besig was om te help – omdat hulle glo lank gevat het om op te daag.

Kommetjie-brandbestryders het Maandag gereageer op ‘n verslag van brandende plakkershutte in Masiphumelele aan die buitewyke van Kaapstad, toe ‘n vyandige skare hulle begin dreig, met klippe gooi en hul waterpype aan vlarde gesny het.

Hulle is gedwing om hulself uit die gebied te onttrek terwyl die hutte aanhou brand het, en ‘n paar wat gered kon word, het gevolglik tot op die grond toe afgebrand.

Twee van die brandbestryders is beseer en in die hospitaal opgeneem.

Die Stad Kaapstad het die voorval veroordeel. Maar dit blyk dat die inwoners dink hul aksie was geregverdig, en is vasbeslote dat dit weer sal gebeur.

Momelezi Ntiya het gesê die brandbestryders is gedreig en met klippe bestook omdat hulle laat was.

“Hulle het lank geneem om aan te kom. Selfs toe hulle eers hier was, was dit nie vir hulle ‘n saak van dringendheid nie en mense was gefrustreerd. Inwoners wou self die brand blus met hul toerusting en ‘n geveg het uitgebreek,” sê Ntiya.

“Mense is gefrustreerd deur die gebrek aan dienslewering en die brandbestryders moes die prys betaal. Ons is nie spyt dat ons hulle weggejaag het nie, en sal dit weer doen as hulle volgende keer hier aankom sonder om dit ernstig op te neem.”

Vir Thimna Siphika was Maandag se brand ‘n dubbele tragedie. Sy het weereens alles verloor, terwyl sy besig was om haar huis te herbou na ‘n brand van drie weke tevore.

Sy en 400 ander huishoudings sit nou gestrand in die armoede-geteisterde informele nedersetting waar almal sukkel om huise te herbou nadat die brand meer as 1,500 mense dakloos gelaat het.

Siphika het aan Scrolla.Africa gesê sy moes Maandagaand by bure deurbring.

“Ek weet nie eers meer hoe om vir hulp te vra nie. Al wat ek het is die klere aan my lyf. Ek weet nie wat om te doen nie,” het Siphika gesê.

Die Stad Kaapstad se brand-en-reddingswoordvoerder, Jermaine Carelse, het aan Scrolla.Africa gesê toe die brandbestryderspanne reageer het, het hulle verskeie informele strukture in ligte laaie aangetref.

“Maar die SAPD moes ingeroep word toe lede van die gemeenskap probeer inmeng het met die werk van die brandbestryders. Hul waterpype is gesny, hul is gedreig en hul voertuie is met klippe bestook,” het Carelse gesê.

“Twee brandbestryders is beseer en hospitaal toe geneem. Daar was berigte van plundering in die gebied.”

Sonica Lategan, woordvoerder van die Stad se ramprisikobestuur, het gesê ses honde het brandwonde opgedoen en is deur die DBV versorg en verwyder.

Op die foto hierbo: Inwoners gebruik die brandbestryders se waterpype wat hulle met geweld afgeneem het om ‘n brand te blus

Beeldbron: Verskaf