Passasier gedwing om Uber-bestuurder te soen tydens taxi staking

Buziwe Nocuze

Die taxi’s was aan’t staak in Kaapstad maar dit was reeds 8vm en sy moes by die werk uitkom. Toe bestel sy ‘n Uber.

Die kar het vinnig aangeland, maar nie ver gekom nie. Hulle het sowat 3km gevorder toe vier gewapende mans, wat hulself as verteenwoordigers van ‘n taxivereniging voorgedoen het, die motor gestop het.

Die vrou het vir die taxi manne gesê hulle is ‘n paartjie wat op pad is werk toe.

Dit was toe dat die viertal hul beveel het om te soen en seks te hê terwyl hulle toekyk – om te bewys dat hulle wel ‘n paartjie is.

“Ek het eers gedink hulle skeer die gek, totdat hulle vir ons die gewere gewys het; ons het geen ander keuse gehad as om te begin soen nie.”

Hulle het hul tyd geneem met die gesoenery om te verhoed dat hulle gedwing word om seks te hê. Uiteindelik,  sê die vrou, “het ons egter gestop en hulle gevra om ons te laat gaan. Hulle het gesê ons kan gaan as ons vir hulle R300 gee. Die bestuurder het die geld aan hulle oorhandig, en ons kon aanry.”

Die vrou kon nie voortgaan met die rit nie en het die bestuurder gevra om haar terug te neem huis toe. “Ek is ’n getroude vrou.

“Hoe kan ek vir my man verduidelik dat ek ‘n Uber-bestuurder gesoen het? Hoe gaan hy daarop reageer?”

Die voorval het veroorsaak dat sy nou ‘n hekel het aan taxi bestuurders.

“Selfs al was ons ‘n paartjie, het hulle nie die reg gehad om ons te beveel om voor hulle te soen en seks te hê nie. Dis ‘n teken van disrespek en wys hoe afknouerig hulle kan wees.”

Santaco het verlede week ‘n twee-dag staking aangekondig en pendelaars aangesê om alternatiewe vervoer te reël om by hul bestemming uit te kom. Die vereniging het nie verduidelik watter alternatiewe vervoer hulle kon aanbeveel nie.

Santaco Wes-Kaap voorsitter Mandla Hermanus het ‘n beroep op die vrou gedoen om besonderhede van die voertuig wat hulle voorgekeer het aan Santaco te stuur.

“Dit is vreemd dat so iets gebeur het, want ons werkskomitee was op patrollie en dit sal nie sin maak dat dieselfde mense wat op die pad was en verseker het dat alles vlot verloop, private motors sou stop nie.”

Golden Arrow en Myciti busse is aan die brand gesteek.

Op die foto hierbo: ‘n Beangste Uber-passasier is gedwing om ‘n Uber-bestuurder te soen deur mans wat beweer het dat hulle ‘n taxi vereniging verteenwoordig

Bron: Buziwe Nocuze