Kan ‘n massiewe wen as ‘n grootse oorwinning beskou word?

LAATVAT MET LUCKY: Presies 50 jaar gelede het Muhammad Ali vir Bob Foster sewe keer platgeslaan om te bewys dat ‘n “goeie grote altyd ‘n goeie kleintjie sal klop” – en Springbok liefhebbers moet hul woorde tel wanneer daar van ‘n “grootse oorwinning” oor Italië gepraat word, waarsku Lucky Maree.  

Die gesegde “‘n goeie grote sal altyd ‘n goeie kleintjie klop” het sy oorsprong in professionele boks, en dateer sover terug as die 1950s. Dit is gereeld in die kruit bewys wanneer boksers van verskillende gewigsafdelings mekaar aangevat het. Die uitkoms was dikwels ‘n bloedige affêre vir die kleiner outjie.

Op 21 November 1972, vandag presies 50 jaar gelede, het Bob Foster – ‘n reus in die ligswaargewig arena – teen “The Greatest” swaargewig, Muhammad Ali, te staan ​​gekom. Ali het Foster nie minder nie as sewe keer platgeslaan voordat hy uiteindelik in die agtste ronde uitgetel is.

Op die rugbyveld is dit doodgewoon gevaarlik om afleidings te maak uit Italië se massiewe verlies (met 51 punte!) Saterdag teen die Springbokke in Genua. Aanloklik is dit wel, maar krete van “die Bokke is terug!” is totaal sinneloos.

Dit is egter opmerklik dat sommige spelers sprankelende spel kan lewer wanneer hulle wel die spasie kry.

Geen van Kurt-Lee Arendse se drieë was sommer net ‘n saak van reguit oor die lyn nael nie. In albei gevalle het hy werk gehad om te doen, en hy’t hom goed van sy taak gekwyt. Hy het die soort drieë gedruk wat die grys van haar en baard na die TV laat wys, ‘n sluk bier wegslaan, en sê: “Daai laaitie ken die pad doellyn toe!” In daardie opsig herinner hy mens aan Bryan Habana, wat op sy beste nooit ’n geleentheid verbeur het om punte op die telbord te kry nie.

Daar was Saterdag ‘n oomblik, laat in die wedstryd, toe Arendse se volwassenheid vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde getoets is.

Hy het ‘n byna oop veld op pad doellyn toe gehad vir sy driekunsdrie, met Cobus Reinach aan sy linkerkant. Arendse het ‘n groter as 50-50 kans gehad om daai drie te druk. Die seun in Arendse sou vir die lyn gaan (‘n driekuns in ‘n Springbok-trui is nooit te versmaai nie) maar Arendse die man, die spanspeler, het na Reinach toe aangegee.

Dit was ‘n perfekte aangee, en Reinach het gaan druk. Arendse, die man, was heel eerste byderhand om hom geluk te wens.

Willie le Roux het vir een keer die soort visioenêre rol gespeel waarvoor hy dikwels onthou word, maar nie onlangs gelewer het nie. Sy veelsydige spel, maar spesifiek sy aangee, was eenvoudig gelaai met visie. Die manier waarop hy dikwels die regte ou op die regte oomblik gekry het, was ‘n plesier om gade te slaan.

Siya Kolisi het  wat genoem word ‘n “kaptein se spel”. Vanuit sy posisie naby die kantlyn, het hy blitsig en beslissend gelyk en sy aangee was uit die boonste rakke.

Sal hierdie en die ander spelers dieselfde soort vertoning eerskomende Saterdag kan lewer wanneer dit nie ‘n “groot een wat ‘n kleintjie klop” gaan wees nie? Ons moet wag en sien, maar Kurt-Lee Arendse sal hierdie dag vir altyd en ewig koester.

Op die foto hierbo: Kurt-Lee Arendse se altyd-onthou dag

Bron: SA Rugby