Jacob Zuma se mediese parool onwettig verklaar

Lungani Zungu

Die Hoogste Hof van Appèl het beslis dat Jacob Zuma se mediese parool, wat in September verlede jaar aan hom toegeken is, onwettig en ongeldig was.

Die hof het ook die voormalige president se aansoek, om vroeë vrylating van sy 15-maande tronkstraf wettig en geldig te verklaar, met koste van die hand gewys.

Zuma, 80, is in Julie verlede jaar tronk toe gestuur nadat hy ‘n hofbevel, wat hom opdrag gegee het om die staatskapingskommissie van ondersoek onder voorsitterskap van Hoofregter Raymond Zondo by te woon, verontagsaam het. Zuma is op 7 Julie by Escourt Korrektiewe Dienste ingeneem, ná die Konstitusionele Hof se uitspraak dat hy gearresteer moet word.

Hy het net meer as ‘n maand en ‘n half by Estcourt Korrektiewe Dienste in KwaZulu-Natal deurgebring voordat hy in September verlede jaar vrygelaat is.

Met die uitspraak het die hof die bal in die hande van Korrektiewe Dienste geplaas om te besluit of die tyd wat Zuma buite die tronk deurgebring het, as deel van sy tronkstraf gereken moet word.

“Of die tyd wat Mnr Zuma aan onregmatige mediese parool bestee het, in ag geneem moet word by die bepaling van die oorblywende tydperk van sy opsluiting,” lui ‘n deel van die uitspraak.

“As die Kommissie (van Korrektiewe Dienste) deur wetgewing gemagtig is om dit te doen, kan hulle daardie tydperk in ag neem by die bepaling van enige aansoek of gronde vir vrylating.”

Die hof het Maandag die uitspraak gemaak, en dus die beslissing gehandhaaf van Regter Elias Matojane se uitspraak dat Zuma se vrylating onwettig was.

Zuma se jarelange bondgenoot, voormalige Korrektiewe Dienste hoof Arthur Fraser, het verlede jaar tot sy redding gekom en hom in September op mediese parool vrygelaat.

Fraser se besluit om Zuma vry te laat is deur die Helen Suzman Stigting en Demokratiese Alliansie (DA) betwis.

Zuma se inhegtenisneming het betogings veroorsaak wat gekenmerk is deur grootskaalse plundering in KZN en Gauteng, wat veroorsaak het dat meer as 300 mense gesterf het.

Korrektiewe Dienste woordvoerder Singabakho Nxumalo het gesê: “Die DKD respekteer die hof se besluit en sal die volle uitspraak bestudeer in ‘n poging om die pad vorentoe binne die vereiste tydraamwerk uit te pluis.”

Die woordvoerder van die Jacob Zuma Stigting kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Op die foto hierbo: Jacob Zuma