Watter buiteperde gaan verras in Katar?

Dylan Bettencourt

Elke Wêreldbeker lewer gunstelinge op om die kroon te lig, asook spanne wat bestem is om almal uit die veld te slaan.

Daardie spanne word as buiteperde geag. Wanneer die toernooi afskop word daar nie van hulle verwag om deur te dring eindrondtes toe nie, maar hulle het wel die vermoë om die hele wêreld te skok.

Hier is ‘n lys van nasies wat hulself as buiteperde mag bewys in Katar.

Uruguay:

Ten spyte van ‘n moeilike kwalifiseringstydperk, lyk die Suid-Amerikaners na perfekte kandidate om dit ver te bring in Katar.

Vir ‘n paar jaar was die blou-en-wit van Uruguay hoogs afhanklik van Luis Suarez en Edison Cavani voor, en Jose Giminez en Diego Godin agter – maar die res van die span het nie die diepte gehad wat vereis word om tot die bitter einde uit te hou nie.

Hierdie jaar het die span se diepte en talent aansienlik toegeneem, met name soos Darwin Nunez, Ronaldo Araujo, Rodrigo Bentancur en Federico Valverde nou deel van die kraal.

Uruguay het egter ‘n moeilike groep om teen mee te ding, insluitende Suid-Korea, Ghana en Portugal.

Serwië:

Serwië is vir die eerste keer in ses dekades weer deel van die Wêreldbeker, en het hul kwalifiseringsfase onoorwonne geëindig, ondanks die feit dat hulle teen Portugal te staan gekom het.

Die steunpilaar vir Serwië sal die aanvallende paar van Aleksandar Mitrovic en Dusan Vlahovic wees.

Hierdie duo van lang, aggressiewe en dodelike aanvallers sal bygestaan ​​word deur spelers soos Dusan Tadic, Filip Kostic en Sergej Milinković-Savić.

Die Europeërs sal hul pad moet oopskiet deur die groep van Brasilië, Switserland en Kameroen as hulle verby die openingsrondtes wil vorder.

Senegal:

Die Afrika-kampioene dra die hoop van die hele kontinent op hul skouers, om na die uitklopfases toe deur te dring.

Uitblinker van Afrika se nommer een-gekeurde span is natuurlik Sadio Mane, maar sy makkers sal sonder hom moet klaarkom vir die eerste wedstryde in Katar.

Die Leeus van Teranga kan darem reken op spelers soos Edouard Mendy, Kalidou Kouliably, Idrissa Gueye, Cheikhou Kouyate en Nampalys Mendy.

Senegal deel ‘n groep met gashere Katar, Ecuador, en ‘n mede-buiteperd in die vorm van Nederland.

Nederland:

Nadat hulle die 2018 toernooi misgeloop het, is Louis van Gaal en sy Nederlandse span terug met so skeutjie wraak in die hart.

Die Nederlanders het klomp imponerende spelers in hul toerspan, soos Virgin van Dijk, Frenkie de Jong, Memphis Depay, Cody Gakpo, Matthijs de Light en verskeie ander om voor uit te kyk.

Nederland sal na verwagting die groepfase kafdraf, maar hul navigasie van die uitklopfases sal bepaal tot watter mate hul ‘n sokkermal planeet gaan verras.

Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi skop op Sondag 20 November af in Katar, waar een van hierdie buiteperde heel moontlik alle verwagtinge omver gaan gooi.

Hierbo: Uruguay se nasionale span

Beeldbron: @Fifa