Bende slaan pa tot in hospitaalbed na hy seuntjie met kabels karwats

Everson Luhanga

‘n Agtjarige seun, wie se pa hom wreedaardig aangerand het met elektriese kabels, sterk tans in die hospitaal aan.

Die 35-jarige pa is ook in die hospitaal, onder polisiebewaking. Hy is in hegtenis geneem vir die wrede aanval op sy seun.

Woedende gemeenskapslede wat nie gehou het van die manier waarop hy sy seun dissiplineer nie, het opgeruk en die man aangerand, totdat die polisie tot sy redding gekom en hom hospitaal toe geneem het.

Beide seun en pa ontvang mediese behandeling by Tembisa Hospitaal.

In ‘n verklaring aan die polisie, het die pa gesê hy het sy tweejarige seuntjie in die sorg van sy ouer broer gelos.

Hy het verwag dat die ouer seun na die kleuter sou omsien. Maar met sy terugkeer, het dié seun met ander kinders gespeel.

Die briesende pa het ‘n elektriese kabel gaan haal en sy seun daarmee te lyf gegaan. Die houe was so erg dat hulle ‘n aaklige klomp letsels op die seun se liggaam gelaat het.

Van die gemeenskapslede het besluit om die pa ‘n bitter sluk van sy eie medisyne te gee.

Met sambokke en kabels het hulle die man so erg toegetakel dat sy rug met diep wonde oorkruis is.

Dit is onthul dat die twee kinders in die sorg was van ‘n oppasser, wat die kinders in hul pa se hande gelaat het.

Konstabel Bridget Mavuso, polisiewoordvoerder in Tembisa-Suid, het bevestig dat beide die pa en sy seun in die hospitaal is.

Sy het gesê SAPD-lede van Tembisa-Suid het ‘n klag ontvang dat die publiek besig was om die reg in eie hande te neem in die Kgatlamping-afdeling. “By hul aankoms het die lede ’n 35-jarige man gevind wat op die grond langs die hek bly lê het nadat hy daar geslaan is.”

Mavuso het gesê hulle het die pa gearresteer op aanklagte van kindernalatigheid en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die saak word deur die eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe ondersoek.

Hierbo: ‘n Pa het sy agtjarige seuntjie met ‘n elektriese kabel aangeval en verskriklike letsels op sy rug gelaat

Bron: verskaf