Vier polisiebeamptes vas vir ontvoering, aanranding en roof

Everson Luhanga

Vier beamptes voorheen verbonde aan die Tembisa Rabasotho Polisiestasie is in hegtenis geneem vir ontvoering, roof en aanranding.

Die polisiebeamptes is Maandag in gearresteer nadat hulle uitgeken is deur hul beweerde slagoffer.

Die verdagtes het glo in volle polisie uniform by sy huis aangekom, sy kluis uitgedra en met hom na ‘n verlate gebied toe gery, waar hulle hom geslaan en geëis het dat hy die kluis vir hulle oopsluit.

Volgens ‘n polisieverklaring wat deur Scrolla.Africa gesien is, het drie beamptes in ‘n NP 300-gemerkte polisievoertuig by die eiendom in die Noeken Park area naby Kempton Park opgedaag.

Twee van die polisiemanne het aan die slagoffer gesê dat hulle sy kamer gaan deursoek, aangesien hulle ingelig is dat hy in dwelms handel.

“Hulle het die kamer begin deursoek en die sak met geld geneem wat bo-op die wasgoedmandjie gestaan het,” lui die verklaring.

“Nog twee polisiebeamptes het die kamer binnegekom en die kluis uit die muur verwyder, die slagoffer geboei en hom agterin die polisie [voertuig] gemerk NP 300 geplaas.”

Al vier polisiebeamptes het toe saam met die slagoffer uit die toegangsbeheerde gebied in Birchleigh gery, tot op die plek waar hulle hom aangerand het.

“Hulle het hom uit die motor laat klim en begin om hom te slaan en skop, en geëeis dat hy die kluis oopmaak. Dit was ‘n foltering vir die slagoffer toe hulle aangehou het om op hom te trap.”

Daarna het hulle aanvanklik met die slagoffer na die Tembisa Rabasotho Polisiestasie begin ry, voordat die beamptes besluit het om ‘n U-draai te maak, en terug te keer na die slagoffer se woonplek.

Met hul aankoms by die slagoffer se huis, het die beamptes weereens sy kamer begin deursoek.

Die vier mans het toe na die polisiestasie toe gery waar hulle die R15,000 wat hulle glo by die slagoffer gesteel het, onder hulle verdeel het.

Die slagoffer het Maandag SMS’e van sy bank ontvang om hom in te lig dat sy kaart by Engen View in Tembisa gebruik is. Die bedrae was R54, R49.99, R100 en R250.

Die klaer het nog dieselfde dag die speurder wat die saak ondersoek oor die transaksies ingelig.

Die slagoffer het ook ‘n telefoonoproep ontvang van een polisiebeampte wat hom beroof het. Die speurder het hierdie nommer gebruik om die polisieverdagtes vas te trek toe hy hulle na sy kantoor ontbied het.

Een verdagte het ingekom en die speurder meegedeel dat sy medepligtige buite die polisiestasie aan diens is.

Hulle is almal by sy kantoor ingeroep, waar die klaer al vier verdagtes positief uitgeken het as diegene wat hom ontvoer, aangerand en beroof het.

Die speurder het dadelik die vier polisieverdagtes in hegtenis geneem en by die Kemptonpark Polisiestasie toegesluit.

Alle verdagtes sal Woensdag in die Kempton Park Landdroshof verskyn.

Hierbo: Tembisa Rabasotho polisiestasie

Bron: Everson Luhanga