Dylan Bettencourt
Met die Katar Wêreldbeker nou net om die draai, het Scrolla.Africa ‘n groep saamgestel van die beste 11 spelers wat die toernooi weens beserings gaan misloop. Lees aan en pink ‘n traan….
Vir die eerste keer in Wêreldbeker geskiedenis, as gevolg van Katar se uiterste somerhitte, word die byeenkoms gedurende November en Desember gespeel, wat met die tuisseisoen saamval. Gevolglik het die spelers se uitmergelende program daartoe gelei dat baie meer beserings as gewoonlik opgedoen is.
Doelwagter – Kepa Arrizabalaga
Die wêreld se duurste doelwagter het ‘n spier in sy voet geskeur wat hom uit die toernooi sal hou – en dit nét toe die Chelsea doelstopper begin uithaal en wys het.
Regteragter – Reece James
Die talentvolle heelagter, ook ‘n Chelsea speler, het aan die begin van Oktober ‘n ernstige kniebesering opgedoen en kon nie betyds herstel om die Engelse span te haal nie.
Senteragter – Presnel Kimpembe
Die Paris Saint-Germain verdediger is oorspronklik deur die Franse span opgeroep, maar het gevoel hy het nog nie ten volle herstel nie. Hy is deur Axel Disasi van Monaco vervang.
Senteragter – Diego Carlos
Die aggressiewe verdediger van Aston Villa het vroeg in die seisoen ‘n anterior kruisligament (ACL) skeur opgedoen, wat sy hoop om vir Brasilië in Katar te verteenwoordig, vernietig het.
Linkeragter – Ben Chilwell
Die aanvallende linkeragterspeler Ben Chilwell, nog ‘n Chelsea-kandidaat, het onlangs ‘n dyspierbesering opgedoen wat beteken dat hy nie by Gareth Southgate se groep vir die Wêreldbeker ingesluit is nie.
Middelspeler – N’Golo Kante
Daar is miskien geen groter naam op hierdie lys as N’Golo Kante nie (jip, nóg ‘n Chelsea-besering). Die verdedigende middelvelder het ‘n beslissende rol gespeel in Frankryk se Wêreldbeker oorwinning in 2018, maar ‘n dyspierbesering het hom sy plek in die huidige span gekos.
Middelspeler – Paul Pogba
Wat bydra tot Frankryk se ellende is dat Kante se middelveldmaat, Paul Pogba, nie vir Katar beskikbaar is nie nadat hy ‘n kniebesering opgedoen het kort voor die seisoen, en toe met sy terugkeer ‘n bobeenbesering nog daarby.
Middelspeler – Giovani Lo Celso
Die ondergeskatte middelvelder het aan die einde van Oktober ‘n kwadrisepspier geskeur en Katar is dus nie vir hom beskore nie. Die Argentyn het goed vertoon en het ‘n sterk band met kaptein Lionel Messi opgebou tydens die land se Copa America sege.
Regtervleuel – Marco Reus
Dis alweer ‘n hartseer saak vir Duitsland se internasionale ster Marco Reus, wat sy tweede Wêreldbeker toernooi gaan misloop weens beserings. Dié keer het hy ‘n knou gekry terwyl hy vir Borussia Dortmund op die veld gedraf het.
Linkervleuel – Diogo Jota
Die Portugese vleuel het ‘n kuitbesering opgedoen terwyl hy vir Liverpool gespeel het, en is dus sy Wêreldbeker kans kwyt. Met beperkte aanvallende opsies gaan Portugal hierdie man met ‘n seer hart mis.
Voorspeler – Timo Werner
Die Duitse doelskopper het net op dreef begin kom toe hy na RB Leipzig teruggekeer het, maar ‘n voetbesering beteken dat sy land Katar toe toer sonder ‘n erkende doelskopper. Kai Havertz sal probeer om daardie gaping te vul, al is hy ‘n middelspeler.
Spelers om dop te hou: Daar is verskeie spelers wat tog die Wêreldbeker groep gehaal het, selfs al is hul nog aan’t herstel van beserings op die vooraand van Katar.
• Sadio Mane (Senegal)
• Son Heung-min (Suid-Korea)
• Kyle Walker (Engeland)
• James Maddison (Engeland)
• Alphonso Davies (Kanada)
• Romelu Lukaku (België)
• Paulo Dybala (Argentinië)
• Angel Di Maria (Argentinië)
• Raul Jiminez (Mexiko)
Hierbo: N’Golo Kante en Paul Pogba
Beeldbron: @The Independent