Negejarige “stabiel” na sy babadogter baar

Dalphine Tagwireyi

‘n Negejarige kind in Zimbabwe is in ’n stabiele toestand nadat sy Maandagoggend met behulp van ‘n keisersnee aan ‘n babadogtertjie geboorte gegee het.

Sy is nou amptelik die wêreld se tweede jongste ma ná die vyfjarige Peruaane Lina Marcela Medina de Jurado, wat in 1939 geboorte geskenk het.

Die minderjarige van Tsholotsho word steeds onder mediese toesig by die United Bulawayo Hospitaal (UBH) gehou. Sy en haar baba is na bewering albei in ‘n stabiele toestand.

Die UBH se waarnemende uitvoerende hoof, Dr Harrison Rambanapasi, het bevestig dat die operasie ‘n sukses was onder leiding van spesialiste, wat die proses met groot sorg hanteer het. Hulle monitor beide die minderjarige en haar baba, aangesien die ure na geboorte die belangrikste is, gegewe haar ouderdom.

Die kind het na bewering swanger geraak nadat sy deur haar pa verkrag is.

Sy het uiteindelik vir ‘n maatskaplike werker vertel van ‘n kabouter wat haar volgens haar pa sou besoek en by haar sou slaap. Na die daad het hy glo die ligte aangeskakel en die vensters toemaak, en die minderjarige meegedeel dat die kabouter weer vertrek het.

Haar pa, wat nie genoem is nie, het na bewering die daad op advies van ‘n selfverklaarde profeet gepleeg om so sy teëspoed te verdryf.

Hy is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem nadat die kind se ma hom by die polisie aangemeld het.

Kort daarna het die kind se ma gaan wegkruip, want sy het beweer dat die profeet haar lewe sou bedreig nadat hy verneem het van die pa se arrestasie.

Die ma van die minderjarige het gesê haar hart is verskeur, maar sy is verlig dat die operasie ‘n sukses was en hoop haar kind sal vinnig aansterk na die keisersnit.

“Ek leef in konflik en pyn, maar ek is net bly die operasie was ‘n sukses en ek hoop my kind sal goed herstel, want sy is in goeie hande. Sy het aanhoudend gevra wanneer haar siekte nou gaan end kry, aangesien sy nie geweet het sy is swanger nie,” aldus die ma.

‘n Mediese dokter wat spesialiseer in verloskunde en ginekologie, Dr Ishmael Mhonde, het gesê dit is van kardinale belang dat die minderjarige onder noukeurige mediese waarneming gehou word.

“Dit is ‘n groot verligting dat haar keisersnit ‘n sukses was, maar die ure na geboorte is die belangrikste en sy moet noukeurig gemonitor word gegewe die delikaatheid van die saak, terwyl haar genesingsproses vinniger mag wees omdat sy so jonk is,” het hy verduidelik.

Hierbo: Die negejarige swanger minderjarige

Bron: Verskaf