Maklik om Barnes te blameer, maar dis kaartreëls wat aandag vereis

LAAT VAT MET LUCKY: Mens sou dink daar is al genoeg gesê oor die kaartstelsel, maar nee! Daar’s meer, skryf Lucky Maree.

Die wedstryd tussen Frankryk en Suid-Afrika was Saterdagaand ‘n spannende affêre en puik kykgenot. Dis soos dit moet wees – maar ook so om al die verkeerde redes.

Wie kan die prentjie uit hul kop verban van Peter-Steph du Toit wat op die strafstoel sit, sy kop wat hang, en (ongelukkig) sy gesig verdraai terwyl hy huil van frustrasie en die trane afvee.

Die kaartstelsel doen baie meer skade as om bloot ‘n speler se wedstryd te vernietig, maar dit simboliseer beslis die pyn wat ervaar word wanneer hy na slegs 10 minute op die veld ‘n rooikaart kry.

Suid-Afrikaanse rugbygeesdriftiges is bekend met die opdraande pad wat Du Toit geloop het om Saterdagaand by Stade Vélodrome in Marseille op die veld te kon hardloop, en een ​​van die eeu se beste Franse rugbyspanne aan te durf.

As jy die voorval terugspeel, is dit duidelik dat dit ‘n kop-duikslag was. Die feit dat nie een van die spelers meer as ‘n meter van die grond af was op die oomblik van impak nie, maak duidelik geen verskil nie – veral nie aan skeidsregter Wayne Barnes nie.

Maar as jy dit ‘n honderd keer oor kyk, sal jy niemand oortuig dat Du Toit die ander speler doelbewus wou seermaak nie.

Eweneens kan die tweede rooi kaart nie aan opsetlike vuilspel toegeskryf word nie.

Cheslin Kolbe storm in en ryk baie hoog om die bal vas te vat. Franse kaptein Antoine Dupont bly op die grond – dit lyk selfs asof hy wegdraai van die vlieënde Kolbe af. Kolbe slaan Dupont met sy bene op die skouer, tol agteroor, en vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde is Kolbe se hele rugbyloopbaan in die weegskaal. Hy peil grond toe en land op die agterkant van sy nek. Hy kon duidelik nie verder speel nie, maar die feit dat hy kon opstaan ​​en afloop is ‘n bewys van sy fiksheidsgraad. Hy kon dood gewees het. Dit is presies wat nooit in ‘n rugbywedstryd moet gebeur nie.

Dan doen skeidsregter Wayne Barnes wat skeidsregter Wayne Barnes doen. Hy pluk sy rooi kaart uit. Dupont sal nie verder aan die wedstryd deelneem nie.

Weereens, daar is duidelik geen poging deur Dupont om die ander speler doelbewus te beseer nie. Om die waarheid te sê kan mens die vraag vra: wat de hel was Dupont nou eintlik veronderstel om te doen?!

Ten spyte van die feit dat Wayne Barnes dit blykbaar geniet om kaarte uit te ruk, moet die veld-af stuur van spelers nie regtig sy verantwoordelikheid wees nie.

Die probleem lê by die einste kaartstelsel. Dit is ‘n stelsel wat in sokker gebruik word, en dis waar dit liefs moes gebly het.

Die ‘ref’ se werk is ‘n saak van onmoontlikheid. Rugby is ‘n ingewikkelde spel. Dit verstaan ons. Wanneer laas het ‘n skeidsregter ‘n perfekte wedstryd geblaas? Dis amper nie menslik moontlik nie. Die skeidsregter moet eintlik daarvan onthef word om spelbepalende besluite op die veld te neem.

Barnes sal nooit saamstem nie, maar dis moeilik om te glo dat 60,000 sissende en fluitende Franse toeskouers op die pawiljoen geen invloed gehad het op sy besluit om Du Toit te rooikaart nie. Weereens sal Barnes dit ontken, maar dis moeilik om te glo dat sy besluit om Dupont te rooikaart nie op sy beurt beïnvloed is deur die kaart wat Du Toit se wedstryd beëindig het nie.

Asseblief, Wêreldrugby. Daar is nog tyd. Vervang die kaartstelsel met ‘n verwysingstelsel. Laat die ref ‘n speler aanpraat en laat ‘n paneel, weg van die sissende Fransmanne, besluit watter straf die speler moet ontvang. Almal weet dat Wêreldrugby deur ego aangedryf word. Maar net hierdie een keer, kan hulle nie die regte ding doen nie? Raak ontslae van die kaarte en spaar rugby! Dis dringend!

Hierbo: Cheslin Kolbe

Beeldbron: Independent.co.uk