Op die week se top-verloorder podium: Putin, Trump en Elon Musk

Scrolla verslaggewer

Drie van die wêreld se minsgeliefde mans het almal ‘n werklik nare, vreeslike, aaklige week agter die rug.

Die VSA se middeltermynverkiesings het Dinsdag ‘n vernederende slag vir voormalige Amerikaanse president Donald Trump toegedien, want die verwagte “rooi golf” van steun vir sy Republikeinse Party het toe nie opgedaag het nie.

In baie wedlope vir Kongressetels, Goewerneurskappe en ander posisies het Trump se verkose ekstremistiese kandidate nederlae gely. Teen alle verwagtinge in het President Joe Biden se Demokratiese Party die Senaat behou en ‘n aantal goewerneurskappe verower.

Teen Donderdag het baie van die voormalige president se ondersteuners hom blameer vir sy party se bepaald onindrukwekkende vertoning. Fox News, die mees doeltreffende propagandawapen van die ekstreme regs, het bankvas gestaan agter ‘n nuwe kampioen, Florida Goewerneur Ron de Santis.

Lus vir amok het ‘n woedende Trump vir De Santis, Fox News en enigiemand in sy party wie se steun wankelrig gelyk het, aangeval – dit in die aanloop volgende Dinsdag se verwagte aankondiging van sy derde poging vir die presidentskap.

Terwyl baie die tande geslyp het aan die vooruitsig van ‘n Republikeinse burgeroorlog, het voormalige Republikeinse konsultant Rick Wilson gewaarsku dat die “groot oranje bullebak” elkeen van hulle sou breek. “Hulle sal kruip en smeek om sy skoensole te lek.”

Trump het moontlik vertroosting gaan soek by sy maatjie, Russiese President Vladimir in Moskou, wat self ‘n aaklige week beleef het toe sy oorlog teen Oekraïne ineengestort het.

As oënskynlike vriendskapsgebaar het Putin die uittog uit die Oekraïne se sleutelstad Kherson vertraag tot ná die mid-termyn wedloop, want ‘n Oekraïense sege van so aard sou Joe Biden, standvastig in sy steun vir die Oekraïne, kon help.

Oekraïense troepe is deur juigende skares verwelkom toe hulle die Russiese besetting van Kherson beëindig het ná maande van druk op die Russiese magte, en hulle oor die Dnieperrivier gedryf het.

Kherson was Rusland se een oorblywende trofee na sy wrede en moedswillige inval op 24 Februarie, en die Russiese weermag se wanordelike uittog dui op die vooruitsig van ‘n meer omvattende nederlaag soos die winter nadersleep.

Beide Putin en Trump het ‘n hupstoot gekry van Elon Musk – miskien steeds die rykste man ter wêreld. Musk het sy steun vir die Republikeinse Party getwiet en ‘n Putin-vriendelike vredesplan in die Oekraïne onderskryf.

Maar sy week was miskien die ergste van die lot: die ineenstorting van sy nuutste aankopie, Twitter, met adverteerders en miljoene gebruikers wat hulself nie vinnig genoeg uit die voete kon maak nie.

Musk, wat ‘n dure $44 biljoen vir Twitter betaal het, het ‘n heel paar swakdeurdagte veranderinge aan die sosialemediaplatform aangebring, duisende werknemers afgedank sonder behoorlike kennisgewing, en gewaarsku dat Twitter binnekort bankrot kan wees.

Die Los Angeles Times het geskryf dat “Elon Musk sy Tesla en SpaceX sukses as bewys van sy briljantheid beskou het. Sy optrede sedert hy Twitter oorgeneem het, is so vernietigend dat die vraag geopper word of Musk, eerder idioot as genie is.”

 Die “idioot” etiket kon net sowel vanpas wees vir “stabiele genie” Trump en “meesterstrateeg” Putin.

Die wêreld put groot genot daaruit wanneer diegene wat hul eie belangrikheid oorskat, tot ‘n val kom. Wanneer dit met drie in een week gebeur, is dit inderdaad rede vir ‘n partytjie.