Gemeenskap eis antwoorde na haarkapper se grudood

Buziwe Nocuze

Die polisie in Kaapstad het gesê daar is geen bewyse dat Thandwazwa Booi vermoor is nie, en hul ondersoek dus nie ‘n moordsaak nie. Daar is slegs ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.

Dít nadat die 32-jarige Thandwazwa Saterdag onder haar eks-kêrel se bed gevind is, met haar oë uitgegaffel en ‘n skerp voorwerp tussen haar bene ingedwing.

Die woedende Makhaza gemeenskap is nou oorgehaal om self na Booi se eks te soek.

‘n Gemeenskapslid het met Scrolla.Africa gepraat en gevra hoe die SAPD ‘n geregtelike doodsondersoek regverdig nadat hulle gesien het hoe erg haar liggaam vermink is.

“As die bewyse nie daarop dui dat sy vermoor is nie, wie het dan haar oogballe verwyder en wie het haar met ‘n skerp voorwerp tussen die bene gesteek?” het hy gevra.

Booi, wat as haarkapper gewerk het, is glo laas saam met die eks-kêrel gesien.

“Hy het vir haar drank gekoop en hulle is na sy shack toe,” het die inwoner gesê.

Daar word beweer dat haar eks-kêrel se suster Booi Saterdag in die middel van die nag hoor skreeu het.

Toe sy haar nie Sondagoggend sien nie het sy Booi se familie in kennis gestel en ‘n soektog is geloods.

Haar broer Andile Booi het gesê hulle het na die eks-kêrel se plek gegaan en haar lyk onder die bed versteek gevind. “Teen daardie tyd was die kêrel reeds skoonveld,” het hy gesê.

Plaaslike inwoner Linamandla Mzayifani het gesê polisiebeamptes speel ‘n groot rol daarin dat vroue vir altyd die slagoffers sal wees.

“Hoeveel meer bewyse word benodig voordat hulle hul werk begin doen?” het sy gevra.

Sy sê hulle het begin soek na die verdagte en sal nie ophou totdat hulle hom gevind het nie.

Wes-Kaapse SAPD woordvoerder Kaptein FC van Wyk, het gesê: “Volgens berigte was dat daar geen fisiese bewyse wat aandui dat sy vermoor is nie en die polisie het ‘n doodsondersoek geopen. Die oorsaak van dood sal bepaal word deur ‘n nadoodse ondersoek.”

Hierbo: Die gemeenskap van Makhaza

Foto: Buziwe Nocuze