EFF vind oplaas iets te vier oor FW

Karabo Rammutla

Die EFF in die Wes-Kaap sê hoewel hulle enige vorm van diefstal veroordeel, hul vreugdevol die feit verwelkom dat iemand FW de Klerk – laaste apartheidspresident van Suid Afrika – se Nobelprys vir Vrede medalje gesteel het.

Die toekenning is glo ses maande gelede uit sy huis in Kaapstad gesteel, en Kaapse polisie ondersoek die diefstal.

In ‘n verklaring noem die rooi barette De Klerk ‘n moorddadige rassistiese apologeet en sê hy moes van die Nobelprys gestroop gewees het. Dit lui verder dat hy strafregtelik aangekla moes word vir oorlogsmisdade terwyl hy nog geleef het.

De Klerk is verlede November in die ouderdom van 85 oorlede ná ‘n lang stryd met kanker.

Hy het die prys in 1993 met wyle oudpresident Nelson Mandela gedeel “vir hul werk om die apartheidsregime vreedsaam te beëindig, en daarstelling van die grondslag vir ‘n nuwe demokratiese Suid-Afrika”.

Die 18-karaat goud medalje weeg 196 gram.

Die prys is na bewering sowat $969,000 (sowat R17 miljoen) werd, en word saam met ‘n diploma en goue medalje toegeken.

Die Nobel Vredeskomitee het destyds gesê Mandela en De Klerk het saamgestem oor die beginsels vir oorgang na ‘n nuwe politieke bestel, geskoei op een-man-een-stem.

Die EFF het gesê De Klerk was in bevel van die moord op onskuldige kinders tydens ‘n aanval buite die landsgrense, toe ‘n huis waar swart jeugdiges gewoon het, geteiken is.

“Hy was ook betrokke by geheime vergaderings waartydens daar besluit is om die Cradock Vier te vermoor,” het die party gesê.

Hulle sê De Klerk het slegs die politieke partye en leiers opgesluit op Robbeneiland ontban weens die druk wat op hom geplaas is.

Hieronder: Die Nobelprys wat aan oudpresident FW de Klerk toegeken is, is gesteel

Fotobron: Namibian Sun