Everson Luhanga
Volgens sy familie het Robin Smith in 1999 in ‘n afgryslike motorongeluk omgekom in Vosloorus, in Ekurhuleni, Gauteng,. Maar laas Woensdag, 23 jaar na sy afsterwe, het die Valke vir Smith springlewendig en gesond in die Wes-Kaap gevind.
Ten tyde van sy veronderstelde dood het Alice Abigail Boschoff R1.7 miljoen van haar man se lewensversekering geëis.
Daardie stewige uitbetaling het beteken sy kon KwaZulu-Natal toe verhuis, voordat sy haar in Knysna, naby George in die Wes-Kaap, gevestig het.
Die oënskynlike weduwee het vir meer as 20 jaar daar saam met haar nuwe eggenoot gewoon – ‘n 67-jarige man bekend as Chris Boshoff, wat ‘n motorhandelaar besigheid genaamd Knysna Auto Repairs in die middedorp bestuur het.
Alice, nou 59, is selfs deur die maatskappy as administratiewe werker aangestel.
Chris was natuurlik nie regtig die man wat hy hom voorgedoen het nie.
Robin Smith het die nuwe alias aangeneem nadat hy en Alice planne beraam het om sy dood na te maak. Dit het hulle na bewering die Old Mutual Versekering se R1.7 miljoen uitbetaling in die sak gebring.
Dit het gelyk of die egpaar se verneukspul vrugte afgewerp het. Maar in 2020 het Old Mutual ‘n wenk ontvang, en daarna is ‘n ondersoek van stapel gestuur wat uiteindelik die waarheid sou ontbloot.
Robin en Alice is Woensdag deur die Valke gearresteer vir bedrog, 23 jaar ná Robin se “dood”.
Lloyd Ramohva, woordvoerder van die Valke, het hul arrestasie bevestig.
Hy het gesê die egpaar het Woensdag in die Knysna Landdroshof verskyn.
“Die egpaar het stilweg van Gauteng na KwaZulu-Natal verhuis nadat hulle die meevaller ontvang het. Hulle het uiteindelik in die Wes-Kaap nes geskop, in die Knysna gebied wat geleë is op die Tuinroete, wat ‘n toeristebestemming is,” aldus Kaptein Romohva.
Kaptein Ramohva het gesê Old Mutual is omstreeks 2020 ingelig oor die moontlikheid dat hulle bedrieg is, aangesien Smith glo springlewendig was.
“Na ‘n interne ondersoek is ‘n dossier van bedrog in Oktober 2020 geregistreer en na die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad eenheid vir ondersoek verwys.
“Die span het onverpoos na die egpaar gesoek totdat hulle opgespoor is in hul skuilplek in Knysna, wat gelei het tot hul arrestasie op Dinsdag 8 November 2022 op ‘n hofbevel.”
Hy het gesê toe hul woonplek deursoek is, is daar op twee ongelisensieerde vuurwapens afgekom. ‘n Saak van onwettige besit van vuurwapens is nou by die bedrogaanklagte gevoeg.
Kaptein Ramohva het gesê die egpaar sal volgende week in ‘n Gautengse hof verskyn vir die aanvanklike klag van bedrog.
Die egpaar bly in polisie aanhouding.
Hierbo: Robin Smith
Foto: verskaf