By Zukile Majova
Die tyd loop uit vir Economic Freedom Fighters leier Julius Malema, om sy anti-blanke uitsprake wat grens aan haatspraak, terug te trek en om verskoning te vra.
Die Menseregtekommissie (MRK) het bevind dat dele van Malema se onlangse toespraak neerkom op “aanhitsing van geweld, haatspraak en moontlik ander oortredings van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie”.
Die kommissie het Juju net 10 dae gegee om ‘n openbare verskoning te maak, voordat die saak deur die Gelykheidshof aangehoor sal word.
Tydens die EFF se Provinsiale Volksvergadering in die Wes-Kaap in Oktober het Malema verwys na ‘n voorval by Hoërskool Brackenfell verlede jaar, toe ‘n blanke persoon verfilm is terwyl hy ‘n EFF-lid te lyf gaan.
Malema het gevra hoekom die persoon nog nie gevang en na ‘n “afgesonderde plek” geneem is om “behoorlik met die ou af te reken nie”.
“Moet nooit bang wees om dood te maak nie. ‘n Rewolusie vereis dat daar een of ander tyd moord moet wees, want die moord is deel van ‘n revolusionêre daad.
“Enigiets wat in die pad van die rewolusie staan, moet uitgeskakel word.”
Die MRK het ook die stryd aangesê oor plakkate en baniere wat by die geleentheid deur EFF-lede gedra is en waarop EFF-kentekens verskyn het.
Boodskappe op die plakkate het ondermeer gelui: “Wittebrood is verby vir wit mense in Suid-Afrika” en “‘n Revolusionêr moet ‘n koue moordmasjien word, gemotiveer deur naakte haat.”
Sinawo Thambo, nasionale woordvoerder van die EFF, het in ’n verklaring gesê die party sal nie die uitings terugtrek of om verskoning vra nie, omdat die MRK nie aan die EFF ‘n geleentheid gebied het om sy argumente aan te voer voordat die uitspraak gemaak is nie.
“Natuurlike geregtigheidswette vereis dat instellings soos die kommissie albei kante van ‘n saak moet aanhoor voordat ’n besluit geneem word.
“Ons sal dus nie die 10-dag sperdatum van die kommissie nakom of om verskoning vra voordat ’n neutrale liggaam na ons geluister het nie.”
Malema het onlangs ‘n haatspraaksaak teen AfriForum gewen toe die Suid-Gautengse Hooggeregshof bevind het dat die sing van die struggle-era lied “Ayesaba Amagwala” nie gelykstaande is aan haatspraak of aanhitsing van geweld nie.
Hierbo: EFF-leier Julius Malema
Bron: @EFFSouthAfrica