Buziwe Nocuze
‘n Egpaar en die eienaar van hul huis het doodgebrand toe ‘n tuisgemaakte fakkel, gemaak van ‘n plastieksak, ‘n vuur begin het wat hul huis totaal verwoes het.
Murial Petersen en Jonathan Hoffmeisterrom van Mannenberg in Kaapstad het die fakkel gebruik om na hul vermiste katjie in nabygeleë bosse te gaan soek.
Die aand het begin om beter te verloop, want kort voor lank het die paartjie hul geliefde troeteldier gevind. Maar toe slaan die noodlot ‘n tragies slag.
Dit word vermoed dat hulle die fakkel, wat steeds aan die brand was, buite die huis laat val het met hul terugkeer. Maar die erf was vol plastieksakke wat hulle vir herwinningsdoeleindes versamel het.
Teen die tyd dat hulle terug was tuis, het die huis se eienaar Abubakar Jassiem reeds geslaap – en hulle was onbewus van die dreigende vlamme.
Aldrie inwoners en hul katjie het in die brand omgekom.
Bure het aan Scrolla.Africa gesê die drie sou oorleef het as die erf nie vol plastiek was nie.
Buurvrou Charmaine Fortuin sê hulle is wakker gemaak deur gille van die mense wat in die huis vasgekeer was.
“Daar was niks wat ons kon doen nie, want die huis was gehul in vlamme, aangevuur deur die brandende plastiek,” het sy gesê.
“My huis was ook aan die brand. Goddank het ons vinnig wakker geword, want ons kon alles verloor of doodgebrand het. Die afval wat in hul erf rondgelê het, het die brand na my huis toe laat versprei. Ek is net bly als het nie afgebrand nie.”
Fortuin het gesê sy weet nie hoe sy haar huis gaan herbou nie.
“Ons het die huis opgeknap vir my verjaarsdag in September en ons is afhanklik van my toelaegeld.”
Wes-Kaapse SAPD woordvoerder Sersant Wesley Twigg het gesê ‘n geregtelike doodsondersoekdossier is geregistreer nadat die oorskot van twee mans, 45 en 58, en die van ‘n 44-jarige vrou ontdek is na ‘n brand in Gonubiestraat.
“Die slagoffers is onherkenbaar verbrand,” het hy gesê.
Hierbo: Veraste oorblyfsels van ‘n huis waar ‘n egpaar en die huis se eienaar gesterf het.
Foto: Buziwe Nocuze