Spanne wen die stryd, maar sterre wys die weg

Lucky Maree

In hul beoordeling van spelers wat die naweek aan internasionale toetse deelgeneem het, het PlanetRugby net een Suid-Afrikaner genoem.

Dis geen verrassing dat die speler wat hulle as die naweek se voorste slot (op nommer 4) beskou, Eben Etzebeth is nie.

RugbyPass (en dis nie ‘n gekompliseerde saak nie) gee net vir Etzebeth, Jesse Kriel en Franco Mostert bo ses uit tien.

Rugby is die hoogste sport wanneer dit by spanspel kom. Daar het byvoorbeeld baie water in die see geloop voordat ‘n vleuel ‘n drie kan druk. Selfs die sogenaamde solo-poging, deur enige speler, verg ‘n hele span se betrokkenheid om die punteplatform te skep.

Kyk bietjie weer na Joel Stransky se wêreldberoemde skop om die 1995 Wêreldbeker vir Suid-Afrika in te palm: dit toon ‘n rotsvaste agtman skrum, en Joost van der Westhuizen se volmaakte aangee reguit die spreekwoordelike broodmandjie-in, wat Stransky ‘n geleentheid gegee het om die perfekte skepskop te vermag.

Ja, dit gaan altyd oor die span – totdat die span ‘n ster benodig.

Op die oomblik is Emiliano Boffelli die Argentynse ster wat sy span aanvuur. Dit is nie dikwels dat ‘n vleuel só ‘n teenwoordigheid op die veld het, of dat spelers van beide spanne deurtentyd van hom bewus is nie.

Jordie Barrett speel altyd goed, maar het uiteraard geskitter in Nieu-Seeland se wedstryd teen Wallis. Hy was ‘n inspirasie, inderdaad.

Garry Ringrose het weer vir Ierland besiel, met ‘n teenwoordigheid op die veld waarvan Jesse Kriel en Damian de Allende maar net kon droom.

As mens terugblik op een van Suid-Afrika se grootste dae op die rugbyveld, toe hulle die Wêreldbeker in Japan in 2019 gewen het, is daar te veel sterre om eers op te noem. Terwyl Duane Vermeulen man van die toernooi was, kan jy nie vir Lukhanyo Am, Cheslin Kolbe, Malcolm Marx en Etzebeth, onder andere, ignoreer nie.

Eben Etzebeth is stermateriaal, maar ons nodig nog meer daarvan. Gaan daar eerskomende naweek ‘n ster verrys wanneer die Springbokke teen Frankryk speel (of selfs in die Suid-Afrikaanse ‘A’-span)?

Dit sal ons eers weet teen Saterdag om middernag.

Hierbo: Eben Etzebeth

Beeldbron: @SARugby