BOEWE BEROOF OUES VAN KERSBEDERFIES

Everson Luhanga

Byna 5,000 bejaardes en kwesbare mense landwyd staar ‘n somber Kersfees in die gesig nadat diewe honderde geskenke ter waarde van meer as R1 miljoen gesteel het.

Tydens Sondag se vroeë oggendure het die groep wesenlike gronse by Solidariteit Helpende Hand se Kempton Park kantore ingebreek en begin om die groot verskeidenheid weldeurdagte geskenke te plunder.

Solidariteit Helpende Hand se woordvoerder, Phillip Bruwer, sê die geskenke het gewissel van lekkerruik sjampoe wat deur farmaseutiese maatskappye geskenk is, tot Kerssmulgoed soos sjokolade.

Hy het gesê die diewe het hulself gehelp aan honderde bokse lekkernye wat bedoel was om die plaaslike bejaarde gemeenskap se Kersfees so bietjie te verhelder.

“Die boewe het als van waarde waarop hulle die hande kon lê gebuit – van ons skenkings en rekenaars tot radio’s en pryse vir ons komende gholfdag op 17 November. ’n Groot kragopwekker, gereedskap en grassnyer is ook gesteel,” het Bruwer bygevoeg.

Mariolette Vorster, die liefdadigheidsorganisasie se streekorganiseerder vir Ekurhuleni, het gesê dat maatskaplike werker Charmanay de Klerk Saterdagmiddag die streekkantoor besoek het. Sy het opgemerk dat daar met die hek se elektriese motor gepeuter is.

De Klerk het onmiddellik ‘n plaaslike veiligheidsmaatskappy gebel, maar op daardie stadium was geen geskenke nog gesteel nie.

Teen Sondag het die maatskappy bevestig dat ‘n inbraak tyden die vroeë oggendure plaasgevind het.

“Toe ons Sondagoggend daar aankom, kon ons dadelik sien iets is fout. Goedere was oral in die tuin gestrooi, en die inbrekers het byna al die vensters, diefwering en veiligheidshekke oopgebreek,” volgens Vorster.

Vorster het gesê hulle het ‘n saak by Kempton Park polisiestasie geopen. Niemand is nog in verband met die inbraak in hegtenis geneem nie.

Vorster en haar span is nou hard aan’t woeker om nuwe items vir die bejaardes se bederfboksies en pryse vir die gholfdag in te samel.

“Ons is verpletter, maar sal nie toelaat dat so iets ons onderkry nie,” sê sy.

Vorster versoek enigiemand met inligting oor die voorval, of wat weet waar die gesteelde voorraad is, om haar by 078 523 2705 te kontak.

Hierbo: Honderde bokse Kersgeskenke vir bejaardes is geroof

Bron: verskaf