LAAT VAT MET LUCKY: Om op die sogenaamde “selfvertroue” speler staat te maak sal jou altyd aan die boud byt wanneer jy dit die minste kan bekostig, waarsku Lucky Maree.
Skielik is die losskakel alleen. Hy word omring deur 50,000 toeskouers en daar’s 30 spelers op die veld, maar hy’s stoksielalleen. By sy voete is die rugbybal en 45 meter voor hom – teen ’n ongemaklike hoek – die pale. In kommentator-taal is dit die spreekwoordelike “doel wat hy móét oorskop”.
Hy neem sy aanloop en . . .
Suid-Afrika het daarin geslaag om twee uit vyf skoppe pale toe te verdoel. Die sewe punte wat Suid-Afrika nie van skoppe pale toe gekry het nie, asof dit weer eens gesê moet word, sou ‘n heel ander kleur aan die wedstryd verleen het. Dit kon selfs die verskil tussen wen en verloor beteken het.
Die selfvertroue speler is daardie man wat van tyd tot tyd so ‘n briljante wedstryd speel dat dit jou asem wegslaan van bewondering. Maar hy doen dit net een uit elke vyf keer – net genoeg om jou te laat dink dat dit vólgende keer oukei sal wees.
Mense wat alkoholiese lewensmaats het, sal vir jou sê dis waansin om dieselfde aksie oor en oor te herhaal, maar aan te hou hoop op ‘n ander uitkoms. Die enigste waarborg is ‘n gebroke hart.
Damian Willemse het nie gevra om losskakel te wees nie. Hy is in daardie posisie omdat hy gewillig was en die vaardighede het. Maar daar sal altyd daardie deurslaggewende oomblik wees wanneer hy – sonder dat dit sy skuld is – die bal gaan laat val.
As die agt-voet sethou om ‘n Meesters-gholftitel te wen die grootste toets is van gedy in die groot oomblik, dan is daardie beslissende skop pale toe in ‘n rugbytoetswedstryd net so kortkoppie agter.
“Jy kán dit doen!” skree die motiveringspreker terwyl hy met sy vuis op die tafel slaan. Maar die waarheid bly staan: sommige mense, vir watter rede ookal, kan, en sommige kannie.
Willemse se skop-aangee na die hoek vir die vleuel Kurt-Lee Arendse – toe Arendse nie daar was nie – bewys hierdie punt. Die bal het gunstig vir Suid-Afrika gehop en ‘n oomblik van verleentheid in bloot ‘n mislukte 50-50 geleentheid verander. Maar ongelukkig laat dit die siniese vraag ontstaan: “Wat het deur jou kop gegaan, Damian?!”
Die tyd vir eksperimenteer behoort verby te wees, maar die kombinasie werk nie. Johan Goosen is reeds in Europa (om vir Suid-Afrika ‘A’ te speel) en hy kan op die oomblik ‘n goeie “eksperiment” wees. Chris Smith van die Bulle het die stille selfvertroue en vaardighede om losskakel te speel (en doele te skop). Hy sit seker in Pretoria en wonder wanneer hy eendag ‘n kans gaan kry.
Maar Suid-Afrika sal volhard met “veelsydige agterspeler” Damian Willemse.
Willemse is ‘n vasberade en toegewyde speler, maar hy gaan die lam wees wat tree vir pynlike tree na die slagpale toe gelei word tussen nou en die Wêreldbeker. En wanneer hy misluk, moet hy nie met die skuld opgesaal word nie. Die mense wat hom daar geplaas het moet die volk in die oë kyk.
Hierbo: Damian Willemse