Pick n Pay brand toe Mpumalanga betogings in plunderfees ontaard

By Nothando Makhubela

Verskeie winkels, waaronder ’n groot Pick n Pay, is deur betogers in Mpumalanga se KwaGuqa township aan die brand gesteek.

Plundering van die Vosman KwaGuqa winkelsentrum het plaasgevind nadat ‘n protesaksie rondom elektrisiteitsverskaffing in wanorde verval het.

Benewens die groot Pick n Pay, is ‘n Pep-tak en drie winkels wat deur Indiërs besit word, ook deur betogers aan die brand gesteek.

Die betogings het vroegoggend begin toe inwoners paaie versper het in alle uitbreidings by die N4-hoofweg, Vosman, KG Mall, Hlalanikahle en Ezinambeni.

Die inwoners eis elektrisiteit nadat sommige gebiede in Emalahleni al vir drie weke sonder krag sit as gevolg van koperkabeldiefstal.

Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit het aan inwoners gesê dit sal 16 weke neem om die kabels te laat vervang.

Inwoners het vroeër op die N4-hoofweg betoog voordat hulle na Vosman opgetrek het, wat 3km weg van die winkelsentrum af is.

Ooggetuie Portia Vilakazi van Ezinambeni uitbreiding 7, wat gesien het hoe die winkels aan die brand gesteek word, het aan Scrolla.Africa gesê: “Nou word winkels afgebrand omdat ons al drie weke sonder elektrisiteit sit. KG Mall is ook geplunder.

“As inwoners hoop ons dat ons binnekort elektrisiteit sal hê,” het sy gesê.

Plaaslike inwoner Njabulo Mabona het gesê: “Pick n Pay en ander winkels brand. Ons was wel ontevrede met die munisipaliteit se dienslewering, maar dit was nie veronderstel om te gebeur nie.”

Teen saktyd het Mpumalanga se polisiewoordvoerder nog nie op Scrolla.Africa se vrae oor plundering by die winkelsentrum gereageer nie.

Vroeër die dag het Graad 12-leerders in sommige dele van die KwaGuqa township in Emalahleni, Mpumalanga, hul Wiskunde 2 vraestel moes mis as gevolg van die betoging oor elektrisiteit.

Leerders van Zacheus Malaza, Philiph Ndimande, DM Motsaosele, en FH Mkhabela hoërskole, asook leerders wat in die omgewing woon maar skole elders bywoon, konnie eksamen skryf nie.

‘n Bakkie met eksamenvraestelle is deur betogers op die N4 weggewys.

Hierbo: ‘n Pick n Pay is Maandagaand aan die brand gesteek toe betogings vir elektrisiteit in plundering ontaard het

Foto: voorsien