Leerders uiteindelik verlos van bus-na-nêrens

By Anita Dangazele

‘n Onstabiele ou bus moes as klaskamer dien by Laerskool Sindawonye op die plaas Elandhoring, aan die buitewyke van Kariega in die Oos-Kaap.

Die wankelrige ou bus lek as dit reën, en ratel en skud wanneer die wind hom looi.

Die leerders is saamgegooi aan die een kant van die omgeboude klaskamer, wat halfpad vol stukkende lessenaars en stoele is.

Leerders het gesê hul deel somtyds die klaskamer met slange en apies. Een leerder het vol grappies vertel hoe ‘n aap met sy kosblik weggehol het.

“‘n Aap het eendag by die venster ingeklim en my kos gesteel!” het die leerder, met ‘n sigbaar geskeurde trui, uitgeroep.

Ses klasse word gedwing om twee slordige klaskamers vir leerlinge van Graad R tot Graad 4 te deel. Die skool het 86 leerders, van wie sewe nie geboortesertifikate besit nie. Daar is geen elektrisiteit nie en die skool moet staatmaak op reënwater.

Ouers het gesê met die hulp van die Uitenhage Dispatch Taxi Vereniging kon hulle ‘n inspeksie deur die kinderregte-aktivis Petros Majola van die Khula Ontwikkelingsprojek reël, wat die Oos-Kaapse Departement van Onderwys tot aksie laat oorgaan het.

“Ons wens was dat die departement ‘n skool vir ons kinders sou bou, maar hulle het besluit om dit te sluit en ons kinders na ‘n ander skool toe te verskuif.

“Al wat saak maak is dat ons kinders veilig sal wees in die nuwe skool. Ons was altyd bekommerd dat die bus eendag sou omrol met die kinders binne-in,” het een ouer gesê.

Majola het gesê hy is bly dat die departement iets aan die stand van sake doen.

“Kinders is nie veronderstel om onderrig te word op so ‘n plek nie,” het hy gesê.

Die skoolhoof het geweier om met die pers te praat, en het Scrolla.Africa verwys na die departementele woordvoerder, Malibongwe Mtima. Dié verduidelik hoekom die bou van ‘n nuwe skool op die terrein nie moontlik sou wees nie.

“In die eerste plek, is die skool op private eiendom gebou. Die departement mag nie op private eiendom bou nie,” het Mtima gesê.

Maar hy het gesê die skool mag in elk geval nie verder bedryf word nie, aangesien daar minder as 100 leerders is. Hy het gesê die departement het ‘n besluit geneem om die leerders na naburige skole te skuif.

Hierbo: Sindawonye laerskoolleerders langs hul klaskamerbus

Foto: Anita Dangazele