WIE GAAN SEPTER SWAAI IN DIE NUWE ANC: DIE XHOSA NOSTRA OF ALEX MAFIA?

Zukile Majova

Dit is vir baie in die ANC ‘n uitgemaakte saak dat president Cyril Ramaphosa ‘n tweede termyn sal uitdien.

Om daardie pad te loop en dan die brug oor te steek in die 16 tot 20 Desember elektiewe konferensie, sal Ramaphosa swaar moet leun op die Oos-Kaap en Gauteng.

Hierdie twee provinsies, saam met KwaZulu-Natal, smee lank reeds planne om beheer van die ANC oor te neem.

Ramaphosa se probleem is dat, sodra hy sy tweede termyn aanvat, hy onmiddellik die spreekwoordelike lam-eend president gaan word, met min tot geen invloed in die toekoms nie.

Die KZN-kabaal het blykbaar te lank gewag om genoeg steun te werf om die Ankole, soos die Ramaphosa-faksie met deernis bekend staan, te ontsetel.

Die ware stryd wat voorlê sal dus van binne die Ankole-kraal kom, waar die Oos-Kapenaars voorgestel het dat Premier Oscar Mabuyane as Ramaphosa se adjunk aangestel word.

Die provinsiale tuiste van ANC legendes – Oliver Tambo, Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan en Thabo Mbeki – het dít as hoofvoorwaarde vir steun aan Ramaphosa voorgehou.

Die Xhosa Nostra was vir 40 jaar aan’t hoof van die ANC, vanaf 1967 toe Tambo president geword het, tot 2007 toe Thabo Mbeki deur Jacob Zuma vervang is.

Die lys wat nou deur OK-lobbyiste verkoop word, blyk nogeens ‘n opkoms van die Xhosa Nostra in die ANC te weerspieël, met Gwede Mantashe wat terugkeer as nasionale voorsitter, en Mdumiseni Ntuli wat met Fikile Mbalula kompeteer vir die pos van sekretaris.

Febe Potgieter-Gqubule van Humandsdorp in die Oos-Kaap is genomineer as adjunksekretaris, en Gwen Ramakgopa as tesourier-generaal.

Ook van binne die Ramaphosa-faksie is daar ‘n komplot om die berugte Alex Mafia, wat reeds vir twee dekades die magsbalans in Gauteng handhaaf, weer lewe-in te blaas.

Die groep word gelei deur Paul Mashatile, tans die magtigste figuur in die ANC se top-ses, waar hy die poste van tesourier-generaal, sekretaris, en adjunksekretaris beklee.

Mashatile is genomineer vir die pos van adjunkpresident met Ramaphosa as sy baas, terwyl sommige faksies hoop om hom tot president te verkies.

Die nuutverkose provinsiale voorsitter en Premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, word deur die Alex Mafia op die hande gedra en sy opgang is versnel om die invloed van Gauteng in die regerende party te konsolideer.

Die politieke beskerming wat hy van hierdie magsblok geniet het dit vandeesweek vir hom moontlik gemaak om die ANC, sy regering, en Polisie Minister Bheki Cele openlik aan te val sonder enige nagevolge.

“Geen regering wat nie sy burgers kan beskerm verdien om ’n regering genoem te word nie.

“Geen regering wat nie misdaad kan bekamp verdien om ’n regering genoem te word nie.

“Geen polisiemag wat wetteloosheid toelaat verdien om ’n polisiemag genoem te word nie.”

Kragtige woorde inderdaad – maar wat veel meer sê oor die ANC se interne politieke struwelinge, as oor Suid-Afrika se gebroke misdaadsbestryders.