Seun verloor gehoor na aanval deur leerkragte

Tladi Moloi

’n 14-Jarige seun is doof nadat hy deur twee manlike onderwysers by Hoërskool Moemedi in Bloemfontein, Vrystaat, geklap is.

Dit het aan die lig gekom dat die houe sy oordrom laat bars en gehoorverlies veroorsaak het. Ná die voorval het die seun chirurgie en mediese behandeling ondergaan.

Moeder Josephine Gailele het gesê haar seun is deur twee manlike onderwysers aangerand as straf vir ‘n klagte van seksuele teistering wat hy teen twee ander leerders ingedien het.

Die voorval het middel September gebeur en volgens Gailele maak sy dit nou eers bekend, nadat die skool en Departement van Onderwys haar van bakboord na stuurboord gestuur het.

“My seun het van die skool af gekom en vir my gesê dat hy deur die onderwysers geslaan is. Hy het gesê die twee onderwysers het hom en die twee seuns na die personeelkamer ontbied, waar hulle toegesluit en geslaan is,” het sy gesê.

Die ma van die Graad 8-leerling het gesê haar seun, wat nou deurentyd mediese behandeling ontvang, het haar vertel die onderwysers wou nie na hom luister terwyl hy sy onskuld probeer bepleit het nie.

“Hy het gesê hy het by die klaskamerdeur gestaan ​​toe die twee seuns aan die meisie se borste en boude geraak en hul toe uit die voete gemaak het. Hy was naby die meisie ten tyde van die insident,” het sy gesê.

Aldus Gailele het sy skool toe gegaan om die saak met die skoolhoof te bespreek. Dié het beweer sy is nie bewus van die voorval nie, en belowe om daaraan aandag te skenk.

“Voordat ek die skoolhoof gaan sien het, het ek eers die onderwysers genader maar hulle het als ontken. ‘n Paar weke later het sy vir my gesê om die saak by die departement aan te meld – wat ek gedoen het, maar niks het tot vandag toe nog daarvan gekom nie,” het sy gesê.

Scolla.Africa is meegedeel dat die oortreders hul skuld beken het, en gesê het die 14-jarige was nie deel van die misdaad nie.

Gailele het gesê sy is later na die naaste polisiestasie om ‘n saak teen die twee onderwysers te maak.

Lt Kol Thabo Covane, korporatiewe kommunikasie en skakelbeampte van die Mangaung Metro, het bevestig dat ‘n saak van aanranding by Kagisanong Polisiestasie gemaak is.

“Daar word beweer dat die leerder by Hoërskool Moemedi met oop-hand klappe deur twee onderwysers aangerand is. Die leerder is daarvan beskuldig dat hy ‘n ander leerder onbehoorlik aangeraak het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Haward Ndaba, woordvoerder van die Vrystaat Departement van Onderwys, het gesê die departement ondersoek die saak.

Hierbo: Die ma en haar seun in die hospitaal

Beeldbron: Verskaf