Oues maak korte mette met gewapende rowers

Screenshot

Lungi Langa

Wat veronderstel was om ‘n gewone dag te wees vir gogo’s om hul ouderdomstoelae op te tel, het in ‘n konsternasie van emosies verander toe gewapende mans ‘n Poskantoor bestorm en personeel met ‘n vuurwapen in die Lamontville-township van KwaZulu-Natal aangehou het.

Die rowers het geëis dat werkers die kluis oopsluit, en het toe die geld gevat.

Maar hulle het nie ver gekom nie. Die oues het die rowers heldhaftig agternagesit en daarin geslaag om twee van die mans vas te trek.

Een van die rowers wat die vuurwapen en geld by hom gehad het, het egter daarin geslaag om hom uit die voete te maak met ‘n onbekende bedrag kontant.

Terwyl die bejaardes ongedeerd daarvan afgekom het, gaan die ervaring nog lank by hul spook.

Een bejaarde vrou wat beweer dat sy die rumoer van haar huis af gehoor het terwyl sy beplan het om in die ry te gaan staan sodat sy haar gestremde suster se toelae kon optel, het gesê hulle is steeds in skok.

Die vrou, wat gevra het om anoniem te bly aangesien sy vir haar veiligheid vrees, het gesê dit was omstreeks 10vm toe iets binne die poskantoor geknal het.

“Almal het gedink die gemaskerde mans was daar om te help. Dit was eers nadat iemand ’n geweer by een van hulle raakgesien het, dat daar besef is hulle is nie daar om hulp te verleen nie,” het die vrou vertel.

Sy het gesê die gemeenskap het in groot getalle opgemars om die mans agterna te sit en te vang, want hulle is doodmoeg vir misdaad.

“Dis ‘n jammerte dat een van hulle weggekom het, maar ons is bly dat twee ten minste gearresteer is. Dit is hartverskeurend wanneer ons wakker word en hoor van misdade wat in ons woonbuurt gepleeg is. Ons weet nooit wat gebeur het, en dít terwyl dit ons almal raak,” het sy gesê.

In een van die stemnotas en video’s vra gemeenskapslede waarom die twee verdagtes deur polisiebakkies wegspoed word, in plaas daarvan om hulle in die gemeenskap se hande te los, sodat daar met hulle afgereken kan word.

Kolonel Nqobile Gwala, woordvoerder van die KZN-polisie, het gesê daar was ongeveer 200 bejaardes wat geduldig gewag het vir hul pensioen-uitbetalings toe die gewapende mans die Poskantoor binnegekom het.

“Ongelukkig het die verdagte met die kontant en vuurwapen daarin geslaag om van die toneel af die bos-in te vlug. Geen skote is afgevuur nie en geen beserings is aangemeld nie,” het Gwala gesê.

Sy het gesê twee verdagtes van 26 en 28 jaar oud onderskeidelik is in hegtenis geneem en sal Vrydag voor die Durbanse Landdroshof verskyn op aanklag van sakeroof.

Beeldbron: @TimesLive