Dylan Bettencourt
’n Groep gesinne wat by die Sydney-dieretuin kampeer het, is wakker geril deur die brul van ’n ontsnapte leeu, en moes deur dieretuinpersoneel na veiligheid gehaas word.
Vyf leeus het vroeër die week uit Sydney Dieretuin ontsnap, tot die aansienlike verbasing van verskeie gesinne wat daar met vakansie was.
Gewapende polisie is na die toneel ontbied toe ‘n volwasse leeumannetjie en sy vier welpies opgemerk is tydens ‘n uitstappie… buite die heinings van hul kamp.
Toe die leeus die pad byster raak het hulle ongelukkig verby die dieretuin se kampeergebied gedwaal, en moes terug begelei word na die grootkatkamp.
‘n Kalmeermiddel is aan die leeumannetjie toegedien, terwyl dieretuinbewaarders die vier welpies rustig teruggelok het na hul kamp toe.
Die dieretuin het dadelik begin ondersoek instel om uit te vind hoe die leeus daarin geslaag het om te ontsnap.
Kampeerder Magnus Perri het vertel hoe frenetiese dieretuinpersoneel hulle by ‘n toiletblok ingelei het toe die leeus opgemerk is.
“Die wagters het by die tentgebied ingehardloop en gesê daar’s ‘n kode een — ‘verlaat jou tent; laat staan jou besittings’,” het Perri aan The Times gesê.
Die Sydney inwoner het vertel sy groep het aanvanklik gedink die petalje was deel van die dieretuin se oornagpakket.
“Die gidse se radio’s was aan en ons kon alles gehoor. Daar’s gesê ‘hulle is nog buite’, so ons het besef iets is buite. Toe sê hulle ‘dis die leeus’, en ons dog toe ‘dis om van te skrik’,” het hy gesê.
“Ons was redelik verras [en het gedink] is dit deel van die aksiepakket?”
Simon Duffy, uitvoerende direkteur van die dieretuin, het gesê CCTV-beeldmateriaal bewys die leeus het in hul kamp oornag.
“Ons het nie die presiese besonderhede van hoe en hoekom [die ontsnapping] plaasgevind het nie,” het hy gesê.
“Dit is waarop ons voorvalreaksie nou fokus, sowel as die oorsig wat uitgevoer sal word.”
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Beeldbron: @TheWestAustralian