VERDRINK: POLISIE ONTDEK LYKE VAN 21 ZAMAZAMAS 

Everson Luhanga

Die polisie in Gauteng het bevestig dat lyke van 21 vermeende onwettige mynwerkers (zamazamas) in Krugersdorp ontdek is.

Bronne op die toneel het aan Scrolla.Africa gesê die mans het verdrink terwyl hulle in die myne gewerk het. Hul liggame is uit die water gehaal deur ander zamazamas, wat die polisie oor die voorval ingelig het.

Die bron het gesê toe die owerhede by die toneel aankom, was die lyke reeds vanuit die myn verwyder.

Brenda Muridili, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die Krugersdorp polisie ondersoek die dood van die zamazamas.

“Die polisie in Gauteng kan bevestig dat lede van SAPD Krugersdorp op 2 November 2022 omstreeks 15:00 gereageer het op ‘n oproep, na die ontdekking van [21] lyke van beweerde onwettige mynwerkers by een van die aktiewe myne in die gebied.”

Brigadier Muridili het gesê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die oorledenes verskuif is na die plek waar hulle ontdek is.

Geen gemene spel word op hierdie stadium vermoed nie en nadoodse ondersoeke sal die oorsaak van dood bepaal.

“Al die nodige rolspelers is na die toneel ontbied. ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geregistreer vir verdere ondersoek,” het brigadier Muridili gesê.

Zamazamas wat in Krugersdorp werk, het onlangs opslae gemaak.

In Julie het 20 zamazamas na bewering agt vroue wat deel was van ‘n gospel-musiekvideo produksie beroof en verkrag.

Die polisie het op die gebied toegesak en verskeie zamazamas in hegtenis geneem. Hulle het beweer dat hul besig was om die gebied van onwettige mynwerkers te verlos.

In September het die polisieministerie gesê hy is bemoedig deur aansienlike vordering wat gemaak is om die veiligheid en sekuriteit van Krugersdorp inwoners te verbeter, sedert die ontplooiing van gespesialiseerde SAPD-eenhede na die gebied om onwettige mynbou hok te slaan.

In Oktober is aanklagte teen die 14 mans wat in verband met die groepverkragting in hegtenis geneem is in die Krugersdorp-landdroshof teruggetrek, toe bevind is dat DNS-monsters wat van die verdagtes geneem is, hulle nie met die misdaad verbind het nie.

Die terugtrek van die aanklagte het wydverspreide nasionale verontwaardiging ontketen, veral oor die onbevoegdheid waarmee die polisie die saak hanteer het.